Fergie, Siddie en Nuweland

Syd Nomis in 1970 teen die All Blacks. (Foto: Bill’s Rugby Blog)

In Nieu-Seeland word daar steeds getreur en gerou oor die ou Lancasterpark-rugbystadion in Christchurch wat nou finaal platgestoot word nadat dit ʼn paar jaar gelede in ʼn aardbewing beskadig is.

Daar waar soveel All Black en Canterbury-helde gebore is, waar Tiny Naude die Bokke in 1965 met ’n lang strafdoel in die modder laat wen het, waar legendes hul eerste tree na roem gegee het, waar drome bewaarheid is en loopbane beëindig is. Daar waar soveel emmers bloed , sweet en trane gestort is.

Dis Saterdag in Kaapstad glo Nuweland se beurt om te groet, al skerm die Westelike Provinsie se rugbybase ook al hoe.

Die eens trotse en tradisieryke stadion se dae is getel. Sy doel is uitgedien en net soos die ou Loftus Versfeld, ou Ellispark, Pam Brink, die Boet Erasmus-stadion en Olënpark sal Nuweland binnekort statistiek word.

Toe die oud-Springbokvleuel, Syd Nomis, Saterdagoggend aan ʼn hartaanval oorlede is enkele dae nadat hy 75 geword het, het die gedagtes dadelik na Nuweland teruggedwaal.

Jare gelede is daar mos vas geglo dat daar ʼn altyd speler van Joodse afkoms in die Springbokspan moet wees om geluk te bring.

Dink maar aan Morris Zimerman, Louis Babrow, Doug Smollan, Okey Geffin, Cecil Moss, Wilf Rosenberg, Joe Kaminer, Alan Menter (hy was saam met die Springbokke in 1969 op toer, maar hy het nooit in ʼn toets gespeel nie), Nomis en Joel Stransky.

As my inligting korrek is, het spelers van Joodse afkoms in 78 toetse vir die Bokke gespeel, waarvan hulle 57 keer aan die wenkant was. Dis ʼn wenpersentasie van 73 persent, en boonop het ses kragmetings gelykop geëindig.

♦ Wanneer die Bokke Nuweland Saterdag in die derde toets teen Engeland groet, sal die verhaal van 8 Augustus, 1970 hom weer afspeel.

Nomis, die liefling-vleuel van Springbokrugby, se voortande is deur die All Black-heelagter Fergie McCormick, uitgeslaan toe hy hom sonder die bal te pletter geloop het.

McCormick is vroeër vanjaar in April aan keelkanker oorlede en was tot met sy dood bitter oor die voorval toe hy uitgekryt is en het Suid-Afrika se vyand nommer een geword.

Anders as die joviale Nomis, was McCormick glo nors, befoeterd en kortaf. Tot en met sy dood het hy in sy onskuld geglo, koerantuitknipsels van die voorval bewaar en ʼn ou rolprent van die toets oor en oor bestudeer om sy onskuld te bewys.

Die All Blacks het die dag met 9-8 gewen, maar die Bokke het voortgegaan om die reeks met 3-1 te beklink.

McCormick het baie goeie herinneringe aan Lancasterpark gehad, dáár waar hy die baie van sy 222 wedstryde vir Canterbury gespeel.

Maar vir Nuweland en Nomis?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Van die videomateriaal wat beskikbaar is op Youtube is dit duidelik dat Syd Nomis deur ‘n swaaiende arm getref word.Rooikaart vandag.

Hoc est bellum ·

As ek die naam van Syd Nomis hoor, dan hoor ek weer vir Gerhard Viviers se Sydie, Sydie! Dit was jare gelede op langspeelplate beskikbaar. Ons het as kaalvoettjokkertjies daarna geluister en dan die wedstryd gaan “oorspeel” en almal wou Syd Nomis of Bryan Williams wees. Dis waar die liefde vir die spel begin het, danksy Gerhard Viviers se goue stem.

Barries ·

Ai, Nuweland het maar ‘n baie spesiale atmosfeer. Selfs so ‘n reukie van hops van die brouery langsaan in die lug. As skoolseun skoliere seisoenkaartjie gehad jaar na jaar. Op die sement bankies gesit, reg langs die kantlyn. Elke klubwedstryd, Intervarcity, Curriebeker en toets gesien. Sommer 3 wedstryde op ‘n Saterdag gewees. Elke klub se spelers geken. Villagers, Hamiltons, Tuine, Valsbaai, Polisie, Stand-Somerset, UCT en Maties. Later seisoen kaartjies nagegaan en geknip op die “Lower Gallery” van die hoof pawiljoen vir ‘n paar Rand elke Saterdag. Goeie tye gewees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.