Fidji in die Blitsbokke se visier

Die Blitsbokke moet oor die volgende twee naweke in Londen én in Parys beter as Fidji vaar om te verseker hulle behou hul titel as reekskampioen in Wêreldrugby se sewesreeks.

Dit is ʼn uitdaging soos min wat onwaarskynlik al Saterdag in die groepronde van die toernooi in Londen sal skeefloop. Die Blitsbokke speel in hul groep teen Samoa, wat in die vorige toernooi in Singapoer ná ʼn power seisoen effe reggeruk het; teen Kanada wat ʼn sukkeljaar beleef en teen Rusland, wat loshande die swakste van die 15 spanne in die reeks se kerngroep is en wat slegs daarom in elke toernooi plek kry.

Maar, en dit is ʼn baie belangrike “maar”: Wen die Blitsbokke hul afdeling D, speel hulle Sondag in die kwarteindstryd teen die tweede span in afdeling A, wat óf Fidji óf Nieu-Seeland behoort te wees. Die ander twee spanne in afdeling A, Skotland en Argentinië, kan egter albei op ʼn goeie dag moontlik vir ʼn verrassing sorg.

As die Blitsbokke nie hul afdeling wen nie, maar tweede eindig, speel hulle teen die wenner van afdeling A ‒ wat ook Fidji of Nieu-seeland behoort te wees!

Fidji, wat taamlik wisselvallig kan wees, het in die eerste drie toernooie net een keer die halfeindstryd gehaal. Toe het hulle egter vier van die volgende vyf toernooie gewen met ʼn derde plek in Las Vegas toe hulle nie die eindronde kon haal nie.

Suid-Afrika het net ʼn enkele toernooi, die eerste van die reeks in Dubai, gewen. Hulle het twee keer in die eindwedstryd verloor, was drie keer derde en twee keer vierde.

♦ Die Blitsbokke het vir die naweek se toernooi weer die dienste van hul kaptein, Philip Snyman, wat in die vorige toernooi ruskans gegee is.

Seabelo Senatla, die beste rugbyspeler van die vinnige manne van die ander spanne met feitlik dieselfde vaart as hulle, is deur die Stormers vir die toernooi aan die Blitsbokke afgestaan.

Dan is daar ook die terugkeer van die ervare drietal Branco du Preez, Justin Geduld en Ruhan Nel.

Dié vyf spelers vervang Selvyn Davids, Kyle Brown, Rosko Specman, Muller du Plessis en Stedman Gans, wat as reisende reserwe nou die 13de lid van die groep is.

Blitsbokke ‒
1. Ryan Oosthuizen (8 toernooie, 33 wedstryde, 30 punte, 6 drieë).
2. Philip Snyman (kaptein, 52 toernooie, 236 wedstryde, 336 punte, 61 drieë)
3. Dylan Sage (22 toernooie, 122 wedstryde, 140 punte, 28 drieë)
4. Zain Davids (11 toernooie, 48 wedstryde, 35 punte, 7 drieë)
5. Werner Kok (35 toernooie, 172 wedstryde, 390 punte, 78 drieë)
6. Heino Bezuidenhout (2 toernooie, 12 wedstryde, 10 punte, 2 drieë)
7. Branco du Preez (60 toernooie, 302 wedstryde, 1 154 punte, 82 drieë, 371 doelskoppe, een  skepdoel)
8. Siviwe Soyizwapi (16 toernooie, 77 wedstryde, 270 punte, 54 drieë)
9. Justin Geduld (34 toernooie, 174 wedstryde, 787 punte, 83 drieë, 186 doelskoppe)
10. Cecil Afrika (60 toernooie, 315 wedstryde, 1 425 punte, 172 drieë, 282 doelskoppe)
11. Seabelo Senatla (35 toernooie, 193 wedstryde, 1 095 punte, 219 drieë)
12. Ruhan Nel (26 toernooie, 135 wedstryde, 237 punte, 47 drieë)
13. Stedman Gans (10 toernooie, 41 wedstryde, 50 punte, 10 drieë)

Blitsbokke se speeltye Saterdag ‒
10:52 ‒ Rusland
13:58 ‒ Kanada
17:04 ‒ Samoa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Snuffels ·

Werner Kok se punte moet net nog n 0 by kry…dan sal dit klop

Buffel ·

Jou rekenaar se battery is pap…….of jy moet jou skoolgeld terugvra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.