Fidji kan nuwe lewe in Superrugby blaas

fidji-logoDaar is min dinge wat die Superrugby-reeks so sal opkikker as om ʼn span van Fidji in te sluit.

Pale Toe! het reeds berig dat Sanzaar Fidji genader het om dié moontlikheid te bespreek nadat hulle te hore gekom het van wat Sanzaar ʼn “veldtog” noem.

Ja, daar was voorheen al baie probleme met inmengery deur die Fidjiaanse regering, maar lui dit nie maar ʼn klokkie in Suid-Afrika nie?

Ja, dit is seker onregverdig vir die franchise’e om teen ʼn land se nasionale span te speel, maar wat anders is die Argentynse Jaguars as die Poemas in ʼn ander gewaad?

Ben Ryan, Fidji se gewese sewesafrigter, hunker na dié droom. Dis presies hoe Agustin Pichot Argentynse rugby reggeruk het. Die meeste van Argentinië se spelers bly nou tuis, speel vir die Jaguares en toer saam met die Poemas.

Gaan kyk maar na die toetsspanne van Engeland, Frankryk, Skotland, Australië en Nieu-Seeland, en na die klubspanne in Europa en ook van die Superrugbyspanne. Hulle wemel van Fidjiane, almal spelers wat oorsee speel om hul gesinne te onderhou.

Gaan gesels maar met Willem Strauss, wat ʼn paar seisoene gelede ʼn opwarmtoer vir die Bulls na Fidji  gereël het. En gesels ook maar met Kobus Wiese en van die ander Bokke oor hul blywende ervarings nadat hulle in die vroeë negentigerjare deur die Suidsee-eilande getoer het.

Ja, die gehalte van die skeidsregters is power; en ja, die tuisskare sal moet leer om houe teen die kennebak te vat, en die stadion in Suva (of ʼn nuwe een wat voorgestel word) sal  ʼn vernuwingskuur moet ondergaan.

En die Fidjiaanse regering sal ook die versekering moet gee dat hulle nie sal inmeng nie. Ja, en wat dan van Samoa en Tonga, wat agter in die ry sal staan?

Maar uit  ʼn rugby-oogpunt, sal dit nie meer gewens wees om eerder ‘n draai in Fidji te maak as om teen die Force, Rebels of Southern Kings te speel nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico K ·

Ongelukkig bly geld die probleem. Ek dink nie Fidji sal hdie spelers die geld kan betaal wat hul in Europa, NZ of Australië kan kry nie. En dit sal dus, soos in SA, nie die uittog van Fidji spelers keer nie.

Jaybee ·

Stem saam met Nico K wat betref die geld probleem. Tog glo ek dat daar wel genoeg spelers sal wees om vir Fidji te speel en dat hulle beslis beter teenstand sal bied as drie genoemde spanne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.