Fidji klop Blitsbokke op drafstap in Hongkong-eindstryd

Suid-Afrika sal maar vir aanstaande jaar se Hongkong-toernooi moet wag nadat die span in die eerste 21 pogings sedert 1997 daar onsuksesvol was.

Saterdag het Fidji die Blitsbokke 22-0 afgeransel en slegs die derde span geword wat die Blitsbokke in Wêreldrugby se 2016-’17-reeks kon klop.

Dit was ook net die derde keer in sewe uit sewe eindstryde in die reeks dat die Bokke met die silwermedalje tevrede moes wees.

Met hulle eerste aanval het Branco du Preez met ʼn oop doellyn die bal te ver voor Shakes Soyizwapi gegooi en ʼn sekere drie was daarmee heen.

Daarna was dit ʼn reeks foute deur die Blitsbokke, met omkeerbesit na ʼn vaste skrum wat Fidji eers gehaak het en wat deur Werner Kok van die losbal af aangeslaan is, tiperend van die Blitsbokke se gesukkel.

Was dit ʼn gebrek aan fokus? Of was dit oorgerustheid teen Fidji vir wie hulle die afgelope vier keer geklop het?

ʼn Mens sal nie weet nie, maar dit was, groepwedstryde ingesluit, een van Suid-Afrika se swakste vertonings in die reeks se 42 wedstryde tot dusver.

Suid-Afrika, met dié dat Engeland nie eers die halfeind gehaal het nie, het sy voorsprong teen hulle na 32 vergroot. Fidji, wat 26 punte op die reeks se punteleer agter die Blitsbokke was, het nou nadergekruip en is nou 23 punte agter.

♦  Die volgende toernooi, in Singapoer, word aanstaande naweek gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.