Fidji verras Skotte; VSA en Kanada speel gelykop

Die verrassing van die naweek was Skotland se neerlaag teen Fidji, wat die Britte weerhou het om na hul hoogste posisie, vierde, op die wêreldranglys te skuif; en die interessantste is dat Kanada en die VSA gelykop gespeel het.

Uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt is die geswoeg van die Wallabies om Italië in Brisbane met 40-27 te klop seker die belangrikste.

Die telling vertel nie die verhaal van hoe die Aussies gesukkel het nie. Vier minute voor die einde was die Wallabies net met een punt voor, 28-27, nadat albei spanne elk vier drieë gedruk het.

Toe het Brendan Foley gaan druk en self verdoel en Reece Hodge het met die laaste beweging nog ʼn drie gedruk.

Dit lyk of die Wallabies is waar die Bokke verlede jaar dié tyd was – met minder potensiaal en diepte onder hulle spelerskorps om uit die moeras te kom.

♦  Niks het toe gekom van Georgië se poging om Argentinië te klop nie, en die Poemas het met 45-29 gewen. Dit was broodnodig, want hulle het voor hierdie oorwinning twee keer tuis teen Engeland, verswak deur die afwesigheid van hulle Leeusspelers, vasgeval.

Die Poemas se vleuel Ramiro Moyano het in die tweede helfte drie keer binne 14 minute gaan druk. Georgië se verdediging was skokkend en bydraend tot die Poemas se tweede oorwinning in hulle laaste elf wedstryde.

Argentinië speel op 19 Augustus in Port Elizabeth in hulle volgende toets teen die Springbokke in dié twee spanne se eerste wedstryd in die Rugbykampioenskap.

♦  Skotland, tans vyfde en een plek bo Suid-Afrika op Wêreldrugby se ranglys, moes die Fidjiane oortuigend in Suva klop om bo Australië en onder die All Blacks, Engeland en Ierland in te skuif.

Fidji, tiende op die ranglys het egter met 27-25 gewen. Skotland het drie drieë teenoor twee gedruk, maar die vyf strafdoele en ʼn doelskop deur die tuisspan se losskakel Ben Volavola het die deurslag gegee.

Wat die neerlaag vir die Skotte nog erger maak, is dat hulle nie te erg verswak is deur oproepe na die Britse en Ierse Leeus se toerspan nie.

♦  Kanada en die VSA Arende het met 28-elk gelykop gespeel nadat albei spanne in die laaste paar minute met ʼn strafdoelpoging misluk het.

Dit was die eerste van die twee wedstryde tussen die Noord-Amerikaners om te bepaal wie direk as kwalifiseerder na die 2019 Wêreldbekerreeks sal deurgaan. Die verloorder moet twee wedstryde teen die Suid-Amerikaanse wenner, hoogswaarskynlik Uruguay, uitspeel en die verloorder dáár kry nog ʼn kans in die repechage-toernooi.

Die Noord-Amerikaanse wenner word Saterdag in San Diego in Kalifornië bepaal.

Ierland, verswak deur sy beste spelers wat vir die Leeus speel, het met 35-13 teen Japan gewen; en Wallis het Vrydag, sonder hulle bestes, met 19-17 teen Samoa gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.