Fiksheid ʼn pilaar vir welslae

Michael Cheika

Hardloop, manne, totdat julle nie meer kan nie… en môre doen ons dit weer.

Die Wallaby-afrigter, Michael Cheika, het die afgelope naweek die sweep behoorlik laat klap omdat die Aussies glo nie fiks genoeg is nie. Die Wallaby-oefengroep vir die komende Rugbykampioenskap het Saterdag nie een keer nie, nie twee keer nie, maar drie keer fiksheid gedoen en hy het dit Sondag herhaal.

Cheika is steeds nie tevrede nie en die groep gaan aanhou aan hul fiksheid skaaf.

Ja, ja, ja, hul vaardigheidsvlakke is ook nie waar dit moet wees nie, maar as hul fiksheid ook lol, is die stryd verlore.

Dis nogal ironies dat die Wallabies jare gelede onder Eddie Jones een van die fiksste spanne was. Nou praat die Engelse onder Jones ook saam en het die Britse en Ierse Leeus dit in die onlangse reeks teen die All Blacks ook gewys. Selfdissipline?

Dit was verlede jaar ʼn seer punt by die Bokke toe daar gesê is dat hulle nie die nodige fiksheidvlakke kon haal nie. Die Bokke het aan die einde van wedstryde uitgesak. Hulle was nie fiks genoeg om die All Blacks, Wallabies en Poemas te klop nie en het aan die einde van die jaar verder uitgesak.

In 1995, toe die Bokke die Wêreldbeker-toernooi gewen het, was fiksheid een van die pilare waarop die Bokke se welslae gebou was. Hulle het gehardloop en gehardloop tot op ʼn dag by die Wanderers toe Kobus Wiese en James Dalton gesê het: “Coach, nou kan jy ons nie meer breek nie.”

Christie het toe geweet die saak is reg. Hy het bereik wat hy wou en van toe af was dit afdraande.

Ek glo steeds die Bokke se fiksheid in bykomende speeltyd van die eindstryd teen die All Blacks het ʼn rol gespeel, want hul konsentrasievlakke het nooit getaan nie. Daardie laaste skrum, daardie laaste skepdoel van Joel Stransky, daardie laaste lynstaan.

Gesels maar met enige rugbyspeler, gesels maar met enige bokser: Wanneer die lyf sê aikôna, volg die kop.