Fisieker Durbell plaas uitdaagbeker op die spel

durbellSaam met die nuus dat Durbanville-Bellville voortaan `n fisieker benadering op die veld sal volg, het die klub aangekondig dat `n uitdaagbeker op die spel sal wees wanneer hy in die toekoms teen Brackenfell speel.

Durbell het voorverlede jaar die Suid-Afrikaanse rugbygemeenskap se verbeelding aangegryp met die wyse waarop hy sy pad van heel onder af oopgeveg het om uiteindelik die Goue Beker in die oop klubs se destydse nasionale reeks om die Gemeenskapsbeker te wen.

Bobby Joubert, die klub se hoofafrigter, en `n gewese Curriebekerspeler van Griekwas en Suidwestelike Distrikte, is tevrede met die stand van sake sedert vroeg Januarie begin oefen is, en glo die klub se jong span sal van krag tot krag gaan namate vanjaar se seisoen vorder.

“Die voorbereiding is verskillend benader met die oog op beter resultate as wat in 2016 behaal is [Durbell het die halfeindronde in die Goue Bekerreeks bereik.- Red.] Die Durbies sal gewis die spel vanjaar fisiek benader.”

Darron Nagel, Durbell se ondervoorsitter, sê die klub het baie min spelers verloor, en het die dienste bekom van heelparty talentvolle spelers wat verteenwoordigende en eersterangse rugby in ander bonde gespeel het.

Gereelde eerstespankeuses soos Tiaan Radyn (losskakel), Ashley Kohler (stut), Stephan Potgieter en Danie Krynauw (slotte) is nog op die krukkelys, maar daar word gespook om hulle voor die eerste ligawedstryd op 1 April teen Unie-Milnerton gereed te kry.

Nuwe bekers op spel

Nagel het insgelyks bekend gemaak dat die Durbanville-Liquors-uitdaagbeker, geborg deur `n jare lange Durbell-klublid en gewese ondervoorsitter Robert Wallander, voortaan op die spel sal wees wanneer die klub se eerste span teen Brackenfell speel. Die beker word op 11 Maart by `n andersins vriendskaplike kragmeting in gebruik geneem.

Die nuwe Inqua-Med-beker, geskenk deur Durbell se mediese borg, is dieselfde dag op die spel wanneer die spanne van Morningstar en Phizantekraal by Durbell daarom meeding.

Die Masibambane Sports Foundation, `n ontwikkelingsinisiatief van die klub, bied die vorige aand aan `n klompie hoërskoolspanne van die omgewing die geleentheid om die eerste keer rugby onder spreiligte te speel.

Die Durbies se vriendskaplike wedstryde begin Saterdag 15:00 wanneer `n besoek aan die Bolandse klub Robertson gebring word. Die Victoriane van die Universiteit van Stellenbosch besoek die Ville Saterdag 4 Maart, wanneer die drie topspanne en die o.20s in aksie sal wees; en 18 Maart speel al Durbell se spanne op Phil Herbsteinpark in Constantia teen die Westelike Provinsie se kampioen en Goue Beker-naaswenner, Valsbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.