Fitzpatrick kap ook na Bokke

Sean Fitzpatrick. Foto: Vano Shlamov/AFP.

Dit is tans seker nie die maklikste ding om ’n Springbok-ondersteuner in die rugbywêreld te wees nie.

Die internasionale rugbygemeenskap kla al vir ’n hele ruk oor die Suid-Afrikaners se sogenaamde “vervelige” wedstrydbenadering, terwyl die afgelope nederlae teen die Wallabies net vir bykomende ammunisie gesorg het.

’n Lelike oorwinning is steeds ’n oorwinning, maar ’n lelike verloorslag bly ongelukkig lelik.

Nou het Sean Fitzpatrick, die voormalige All Blacks-kaptein, óók sy stem dik gemaak: Die skop-en-hoop-vir-die-beste-taktiek beïndruk hom nie veel nie.

“Ek dink nie die Springbokke het al van 2019 af aanbeweeg nie en iets sal moet verander. Daarteenoor het die All Blacks goed ná verlede jaar se teleurstelling ontwikkel; veral wat diepte en leierskap betref,” het Fitzpatrick gesê.

Tog meen hy dat die Suid-Afrikaners beter teen die Nieu-Seelanders kan vertoon.

“Ja, die Springbokke het genoeg gedoen om die Britse en Ierse Leeus te klop. Die Leeus het hulle fisiek probeer aanvat en dit is ’n oorlog wat hulle nooit sou wen nie. Maar met alle respek jeens Australië, ek glo die Bokke sal met ’n groter dringendheid teen die All Blacks speel.”

Die Suid-Afrikaners speel juis Saterdag in hul 100ste toetswedstryd teen Nieu-Seeland op die Country Bank-stadion in Queensland. Die All Blacks het 59 van die voorafgaande 99 kragmetings gewen.

Volgens Fitzpatrick moet Suid-Afrika ook nie uitsluitlik op toetsrugby fokus nie.

“As jy só iets doen, gaan jy sukkel om nuwe talent te ontwikkel. Al die ouens in die All Blacks-span weet byvoorbeeld as hulle nie goed vir die Blues of die Crusaders speel nie, sal hulle nie die toetsspan haal nie. Dit beteken jy sal jou sokkies moet optrek om vir Nieu-Seeland op die internasionale verhoog te verteenwoordig.”

Intussen het Deon Davids, die Springbokke se hulpafrigter, gesê daar moet nie te lank oor verlede week se nederlaag getob word nie.

Ja, die Bokke het deksels swak teen die Wallabies gespeel, maar dit is tyd om op die komende All Blacks-stryd te konsentreer.

Sy woorde is deur Bongi Mbonambi beaam.

“Ons het die wedstryd teen die Aussies ontleed en ons weet daar is baie ruimte vir verbetering. Ons is professioneel genoeg om te erken dat ons foute gemaak het, maar ons gaan vandeesweek hard daaraan werk,” het die Springbok-haker gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Kobus ·

Die nuwe gier om spelers ook tydens onderhoude toe te laat is mynsinsiens nie goed nie.Hulle is daar om te speel,nie om persverklarings uit te reik nie.Hulle onderhoude voeg geen waarde toe nie.Dieselfde rympie,……”ons was nie goed nie,ons sal Maandag die video kyk,terug teken bord toe……bla bla ba”

MakersMark ·

En die kaptein van die span wat Suzie en maagwerkings moes “invent” as ‘n verskoning vir sy span se verloor in die 1995 wêreldbeker het ook iets te sê……na daai debakel moes hy eerder sy kop in skaamte laat sak het.

MakersMark ·

Hy was ook baie groter opgeblaas deur die NZ pers as wat hy regtig was. Maar daai claim van “Suzie” tussen hom en Laurie Mainz was net die swakste tentoonstelling van sportmanskap en leierskap nog van ‘n sportman.

Jack ·

Die ou bokkies het NOOIT die titel van wêreld kampioen verdien na die laaste wêreld beker nie.Die ALL BLACKS was altyd ‘n beter span.So uiteindelik is die ou bokkies afgestoot na waar hulle regtig moet wees..erens onder.Geen span verdien ENIGE eer,respek of wen as hulle saamgestel is met KWOTAS,TRANSFORMASIE of ENIGE politieke inmenging nie.Net MERIETE moet meetstok wees.

Jean ·

Tog het die bokke gewen met al die kwotas en NZ het verloor teen Engeland

MakersMark ·

Die bokke het ten spyte van alles wat jy noem die rugby kampioenskap, die wereldbeker asook die reeks teen die B&IL gewen vanaf 2019 tot nou. Ja twee patetiese wedstryde teen Aus. Maar dit maak nie dat hul geskiedenis van indrukwekkende vertonings geignoreer kan word nie.

Afriperd ·

Die bokke speel verveelige rugby, en dit is “Skop en hoop” rugby. Gin mens wil betaal om dit te sien nie, en wat die klomp vergeet is ons as ondersteuners en wat na dit moet kyk is die klomp wat hulle vet salarisse betaal, sonder enige mense wat na jou kyk gaan hulle nie sakke vol kan maak nie.
Ek sal nie betaal vir n kaartjie om te sien hoe die bokke vir die laaste paar jaar speel nie. Ons moet die Springbok weg vat want van hardloop weet ons span niks nie. Dink n donkie sal die beste logo wees vir hoe ons nou speel!

Kokkie ·

Ek stem volkome saam met Kobus aangaande onderhoude met ‘gewone’ spelers. Almal het nou ‘n eiertjie te lê. Pollard en Kolisi reken die Bokke speel nie om te vermaak nie, maar om te wen. Dan het die vleuel, S’bu Nkosi, ná die eerste verloor teen Australië te vertelle dat die Bokke niks het om te verander nie. Hulle het ‘n plan! Dit grief my dat so baie spelers so baie te sê het. Die ander ding wat ek wou vra. Wat het van Rassie geword? Tydens die Leeu-toer was hy tydig en ontydig op die veld om spelers te ‘adviseer’. Nou dat die ‘paw paw’ die ‘fan’ geslaan het, swyg hy soos die graf.

kolonel ·

Rassie wag moontlik vir die ondersoek teen hom om afgehandel te word, voor hy meer betrokke raak.

kolonel ·

Ja die plan. Ek smag na ‘n toekoms waar ons meer as een plan het, as die groot PLAN nie werk nie. Dit help ook nie as die plan nie regtig ‘n plan is nie, maar eerder net ‘n rympie wat herhaal word.

piet ·

NZ sou nie naastenby so goed gewees, as dit nie was vir die geweldige invloed wat die Suidsee eiland-manne tot hul span en sisteem toevoeg nie. Dit is nou maar so dat die eiland-manne net geneties gesproke puik rugby-atlete uitmaak en dan kry hulle nog die spesialis-afrigting en kultuur wat die AB’s oor langer as ‘n eeu gevestig het. Ons sal van hierdie groot atletiese Sentraal-Afrika manne vroegtydig moet identifiseer, invoer en rugby leer, dink ek. En hierdie is geensins rassisties nie, dis ‘n feit dat sekere rasgroepe net oor die algemeen beter natuurlike atlete in ‘n gegewe sport kan bied. Dis ‘n genetiese ding, ek praat hier suiwer van natuurlike, atletiese vermoens.

MakersMark ·

Nou waarom het Amerika met van die grootste en mees atletiese sportmanne nie die beste rugbyspanne nie ? Wat van spoed – kyk na Jamaica, kan jy jou indink ‘n span met 3 potensieele Bolts in die agterste driehoek ?Hul maak skaars die 7’s circuit. Nee wat vra dan die vraag hoekom suide eilandse spelers die all Blacks goed maak maar op hul eie as nasionale spanne is hul vrot, behalwe vir Fiji 7’s. Jy kan jou beste Afrika unie 15 tal bymekaar sit top 10 toets spanne sal hul almal klop.

Baardman ·

Suid Afrika se gameplan:
Voorspelers kry die bal en hardloop teen die bondel vas (2x)
Bal kom uit, dan 3 opsies:
1. Skrumskakel skop bal
2.Losskakel skop bal
3. Bal beweeg tot by Willie le Roux en hy skop of maak droog

Niklaas ·

Ek sal nooit die oorbyt episode destyds met Johan Le Roux , Bok voorryman vergeet nie. Toe was hierdie karakter feitlik in trane. Dit was heerlik om sy verloorder gesig te sien na die Allblacks se nederlaag wedstryd teen die Bokke in 1995 se wereldbeker . Ongelukkig is daar weinig kans vir die Bokke op oorwinnings in die volgende 2 weke nie , so hy gaan reg bewys word wat die Bokke se huidige spel patroon betref.

MakersMark ·

Hy kan bly wees Johan het net sy oor gebyt hy kon ‘n paar ander meer geweldadige aksies op hom uitgevoer het.

SjN ·

Tot ons direkte mededingers (Sean) sien die doellose skoppe en gebrek aan leierskap as struikelblok vir die boerbokke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.