Flair, foute sorg vir slordige wedstryd

Frankryk het vyf drieë gedruk om die VSA met 33 – 9 te klop. Foto: Facebook.

Met 15 minute se speeltyd op die horlosie in Fukuoka oor was daar slegs ’n verskil van drie punte op die telbord tussen die VSA en Frankryk in hul Wêreldbeker-kragmeting.

Maar AJ MacGinty se suksesvolle strafskop – om die telling net 12 – 9 in die Europeërs se guns te maak – het as’t ware die nodige petrol vir die stotterende Franse enjin verskaf en skielik het dinge gladder vir “Les Blues” begin loop.

Die Fransmanne het die wedstryd uiteindelik met 33 – 9 gewen om tweede in Groep C – ’n kortkop agter Engeland – te lê.

Dit was egter hoegenaamd nie ’n mooi wedstryd nie, en nes Rassie Erasmus ná die Springbokke/Namibië-wedstryd, behoort die Franse afrigterkorps ook met meer vrae as antwoorde te sit.

Waarvan hulle wél seker kan wees, is dat Camille Lopez oor meer as genoeg flair beskik om die gang van enige wedstryd te bepaal.

Dié Franse losskakel se steekskoppies was briljant en sy harde werk het tot drie van sy span se vyf drieë gelei. Veral daardie skop, wat Alivereti Raka uit die lug geraap het vir Frankryk se tweede drie, was dodelik akkuraat.

Op hul beurt het die VSA moedig baklei, maar dit het net nooit gelyk of hulle ooit iets meer as ’n skop deur die pale sou kon jaag nie.

Dit was juis MacGinty se derde suksesvolle strafskop in die tweede helfte wat tot die Franse herlewing gelei het. Het die Amerikaners eerder op ’n lynstaan as ’n stelskop besluit, kon die wedstryd dalk anders gelyk het.

  • Puntemakers:

Frankryk: Drieë: Yoann Huget, Alivereti Raka, Jefferson Poirot, Gael Fickou en Baptiste Serin. Doelskoppe: Camille Lopez (3) en Thomas Ramos.

VSA: Strafskoppe: AJ MacGinty (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

What a joke! ·

Sou graag vir Rassie wou vra wat hy nou eintlik probeer bereik het met 13 veranderings in die begin span..Was n geleentheid om manne soos kolisi n volle 80 min te gegee het om hom wedstryd fiks te maak…oe ja sorry ek vergeet kolisi se volle wedstryd is net 50 min…Maar ok om sy span as n eenheid en kombinasies en tegniek in te oefen en hul te laat saam smelt het vir teen die groot games wat kom..Maar nie Rassie nie…Hou by faf hou by Mapimpi hou by de ellende hou by Willie die bal vang nie??? Oe genade..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.