Fleck laat Bokke, Stormers se kapteins weg

Robbie Fleck – verrassende spankeuses (Foto: Facebook)

Die Springbokkaptein en ook die Stormers se aanvoerder is nie een in die Stormers se 23-tal wat Saterdag (15:05) in Bloemfontein teen die Cheetahs speel nie.

Trouens, die Kapenaars se afrigter Robbie Fleck lyk of hy proewe hou om die regte span te kan kies wanneer die Stormers op 22 Julie in die uitspeelwedstryd van die Superreeks uitdraf.

Dit gaan nie net om ruskans vir al die betrokke spelers nie, beweer Fleck. Hy erken selfs dat van die spelers kans moet kry om hulle kleim af te steek.

Gegewe sy ongelukkigheid nadat die Sharks net voor die reeks toetse sy span kis gespeel het, is van sy spankeuses nogal verrassend.

Dit is nog onseker wie die Stormers se teenstander in die kwarteind sal wees. Volgens die huidige posisies op die onderskeie puntelere, is dit die verdedigende kampioenspan, die Hurricanes. Maar die Sharks kan self ook nog Kaapstad pleks van Christchurch toe moet reis as die volgende drie naweke se uitslae vir hulle reg verloop.

Eben Etzebeth, wat sy eerste kans as Bokkaptein Saterdag gekry het, en die man wat die Stormers vanjaar aanvoer, Siya Kolisi, speel nie. Ook nie die Springbokhaker Bongi Mbonambi nie; en die senter wat vanjaar in sy eerste seisoen op die vlak die verbeelding aangegryp het, EW Viljoen, kry ruskans om vir die terugkerende Juan de Jongh plek te maak.

Mbonambi se plek word ingeneem deur Ramone Samuels wat vir die SA A-span gehaak het; en die beserings wat die twee voorste Kaapse losskakels Robert du Preez en Jean-Luc du Plessis van die veld hou, gee aan die 19-jarige Junior Bok Damian Willemse die verantwoordelik in die posisie waar die spel beheer moet word. Hy het net twee ses weke gelede 19 geword.

Die span word aangevoer deur die Springbokke se vaskop Frans Malherbe. Daar is nie vir die rooikop Steven Kitshoff plek in die beginspan waar JC Janse van Rensburg opdraf nie.

♦  Die Cheetahs se afrigter, Franco Smith, het aan die ander kant in sy strewe na bestendigheid so min moontlik aan sy span verander.

Daar is die goeie nuus dat Reniel Hugo slaggereed is en hy vervang Carl Wegner wat die week beseer is; en op skrumskakel is Tian Meyer weer in die beginspan nadat Shaun Venter enkelligamente geskeur het; en Elandré Huggett is die haker in  die plek van Torsten van Jaarsveld wat ʼn nekbesering het.

Spanne –

Cheetahs
Clayton Blommetjies, Sergeal Petersen, Francois Venter (kapt.), Clinton Swart, Raymond Rhule, Niel Marais, Tian Meyer, Niell Jordaan, Uzair Cassiem, Henco Venter, Reniel Hugo, Armandt Koster, Aranos Coetzee, Elandré Huggett, Ox Nche. Bank: Joseph Dweba, Charles Marais, Tom Botha, Justin Basson, Oupa Mohoje, Fred Zeilinga, Ruan van Rensburg, William Small-Smith.

Stormers  
SP Marais, Cheslin Kolbe, Juan de Jongh, Shaun Treeby, Dillyn Leyds, Damian Willemse, Jano Vermaak, Nizaam Carr, Kobus van Dyk, Rynhardt Elstadt, Pieter-Steph du Toit, Chris van Zyl, Frans Malherbe, Ramone Samuels, JC Janse van Rensburg. Bank: Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff, Wilco Louw, JD Schickerling, Sikhumbuzo Notshe, Justin Phillips, EW Viljoen, Seabelo Senatla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lol ·

Robbie Fleck se besluite as afrigter is net soos in sy speeldae: wisselvallig en onvoorspelbaar.

Nico K ·

Ek verstaan sy keuses. Eerstens sukkel hy met baie spelers wat beseer is en tweedens is sy span reeds deur na die uitspeelrondtes so hy kan nou eksperimenteer en van die spelers wat toetsrugby gespeel het laat rus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.