Fleck verras met onervare pak, ander veranderinge teen kampioen

Robbie Fleck – heelwat veranderinge (Foto: Facebook)

Robbie Fleck het ʼn paar gedwonge veranderinge gemaak, maar terselfdertyd verras met van sy spankeuses vir die Stormers se moeilike kragmeting die naweek teen die Hurricanes in Wellington.

Twee onervare slotte gemeet aan Superstandaarde, Jan de Klerk en Chris du Toit, in die plekke van die gesoute maar beseerde Springbokke Pieter-Steph du Toit en Eben Etzebeth, is verstaanbaar.

JC Janse van Rensburg se besering gee aan Ali Vermaak weer ʼn opdrafkans, en Frans Malherbe rus wat beteken dat  Wilco Louw weer terug is in die beginspan.

Op sy beurt is die loskopstut Oli Kebble nou op die bank as die vaskopplaasvervanger.

Een van die snaakse besluite – en ʼn mens weet nie of hy ʼn skeet het wat net aan die span bekend is nie – is dat Sikhumbuzo Notshe op die bank sit met die nuweling Kobus van Dyk wat in sy plek as flankmaat vir die kaptein Siya Kolisi begin.

Jano Vermaak, in een van sy beste seisoene in ʼn baie goeie loopbaan, is op die bank. Dewald Duvenage is na die opdrafspan bevorder. Die ander verandering in die agterlyn is dat Shaun Treeby in die plek van Dan Kriel gekies is.

Met 50 Superwedstryde vir die Highlanders bring Treeby stabiliteit aan  die jong binne-agterspelers.

Fleck wou glo vir Juan de Jongh op senter laat begin het, wat soos Rynardt Elstadt saam met die voorryman Caylib Oosthuizen en die slot JD Schickerling, as plaasvervangers na Nieu-Seeland laat kom is. Dit blyk dat eersgenoemde twee na hulle beserings egter nog nie slaggereed is nie.

Oosthuizen en Schickerling is albei op die bank gekies.

Dit gaan vir die Stormers baie, baie moeilik wees om ʼn einde aan hulle rits neerlae te bring. Die Lions het die Stormers op Nuweland geskok, en daarna het die Crusaders en die Highlanders 17 drieë in twee wedstryde teenoor die Stormers se vyf gedruk en albei het meer as 50 punte aangeteken.

Dit sal almal verbaas as dit nie weer teen die verdedigende kampioen gebeur nie. Die goeie weer wat vir die naweek voorspel word,  is ook nie goeie nuus vir die Suid-Afrikaners nie.

Stormers –

SP Marais, Cheslin Kolbe, EW Viljoen, Shaun Treeby, Dillyn Leyds, Robert du Preez, Dewaldt Duvenage, Nizaam Carr, Siya Kolisi (kapt.), Kobus van Dyk, Chris van Zyl, Jan de Klerk, Wilco Louw, Bongi Mbonambi, Ali Vermaak. Bank: Ramone Samuels, Caylib Oosthuizen, Oli Kebble, JD Schickerling, Sikhumbuzo Notshe, Jano Vermaak, Dan Kriel, Bjorn Basson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.