Fleckie, Willie le Roux en Frik

Willie le Roux (Foto: GB Jordaan)

“Ja, maar … ”

Sestien jaar gelede, toe die Stormers nog Superrugby-wedstryde in Wellington in die Boland gespeel het en die Springboksenter Robbie Fleck nog nie grys was nie, het hy een van daardie oomblikke beleef wat ʼn rugbyspeler nooit sal vergeet nie  …  en vir hom gryshare besorg.

Net soos toe die gewese Springbokheelagter Willie le Roux Saterdag in Dublin die bal op die doellyn verloor het toe hy ʼn drie vir Wasps in die kwarteindronde van die Europese Kampioenebekerreeks teen Leinster wou druk toe hy oorgeduik het. Geen teenstander in sig nie, net die doellyn en die bal.

Fleck was in 2001 op pad pale toe om ʼn drie te druk. Kort duskant die doellyn het hy effe arrogant briek aangedraai, want daar was nie ʼn teenstander in sig nie, altans só het hy gedink.

Deon Kayser, die gewese Bok-vleuel van die Coastal Sharks (het enigeen al ooit van ʼn binnelandse haai gehoor?) het nie moed opgegee nie. Hy het Fleck bly jaag en hom onder die pale geloop en verhinder om die bal te druk.

Dís hoekom Fleck so lekker gelag het toe Cheslin Kolbe Saterdag op Nuweland die Cheetahs se agtsteman, Henco Venter, van agter af ingeloop en hom kort voor die doellyn platgetrek het. Venter het die bal op die doellyn verloor, en Fleck het sekerlik teruggedink aan 2001.

Een van my afrigters (het almal dit nie gedoen nie?) het ons geleer om seker te maak om die bal met albei hande te druk, en nie te duik tensy dit absoluut nodig was nie.

“Sien julle ooit ’n Springbok dit doen?,” het hy altyd gebulder.

Maar een middag op Loftus het selfs Frik du Preez die bal onder die pale teen Wes-Transvaal verloor (dis uit sy hande geklap).

Die volgende dag by die oefening was ons eerste vraag: “Het meneer gesien  wat het Frik gedoen?”

“Ja, maar … ” is al was ons uit hom kon kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AlmaWil ·

Eeeenige iemand is beter as willie, solank hy wegbly, is ek tevrede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.