Flou Bulls lewer een van hul heel vrotste vertonings nóg

Travis Ismaiel het geen hardloopkans gekry nie. Hier dam die Crusaders hom weer toe. (Foto: (GB Jordaan)

Die baie min stukkies goeie spel kan nie verbloem dat die Bulls se vertoning Saterdagaand op Loftus een van die heel vrotste in hulle geskiedenis was nie.

Hulle het sake vir ʼn baie goeie Crusadersspan met ʼn reeks foute, onvermoë op aanval en verdediging en algemene spel soveel makliker gemaak en die loesing van 24-62 terdeë verdien.

Daar is tien drieë teen die Bulls gedruk, en ʼn paar daarvan het van omkeerbesit van die Bulls op die aanval gekom. Self kon die Bulls, net in die tweede helfte, drie keer gaan druk.

Die enigste plekke waar die Bulls effens op hulle gemak gelyk het was die kere wat hulle om die afbreekpunte in die vastelos die teenstanders kon vasvat – in elk geval totdat die bal uitgekom en wyd gespeel is.

Dit is goed en wel om te sê dat die Bulls ʼn nuwe speelstyl aan’ t aanleer is. Dit neem tyd, vra maar vir Johan Ackermann en Swys de Bruin wat van vierde laaste plek in  2014 stelselmatig na agste in 2015 en toe na die eindstryd verlede jaar gevorder het.

Nick de Jager en Jason Jenkins staan nader om Pierre Schoeman te help. (Foto: GB Jordaan)

Maar dit verskoon nie dat spelers op hierdie vlak darem ʼn eenvoudige aangee moet  kan raakvat nie; of dat daar na ʼn vinnige vleuel wat die man-oor is toe uitgegee moet word eerder as veld-in waar dit van verdedigers wemel nie; en veral dat daar man-op-man verdedig moet kan word nie.

Nie minder nie as 35 Bulls-duikslae was onsuksesvol.

Dan praat ʼn mens nie eens van die skrum nie. Die Bulls, wat die afgelope paar weke gelyk het of sake in die skrums aan die verbeter is, is eenvoudig in dié faset verwoes.

Daar is te veel besit by die afbreekpunte afgestaan, deels oor die bal wat uit die hande verloor is, deels omdat die Bulls nie ʼn baljagter soos die Saderskaptein  Matt Todd gehad het wat male sonder tal ingegaan en die bal bemeester het nie.

Lood de Jager storm af op Crusaders se losskakel en speler van die wedstryd, Richie Mo’unga (Foto: GB Jordaan)

ʼn Ligpuntjie of twee (en daar was kwalik meer as dit) van die Bulls se kant af was die lewe wat veral Jan Serfontein ná sy twee weke af in die aanvalle geblaas het; die onderstreping dat RG Snyman nuwe vuur op die veld bring wanneer hy opkom; en Jesse Kriel wat op die aanval goed gelyk het, selfs toe hy vleuel toe is.

Dan het Francois Brummer ook seker genoeg gedoen om sy plek bo Tian Schoeman te behou, wat geen afwisseling behalwe wyd speel en diep skop getoon het nie.

Maar drie swaeltjies maak nie tussen die vlerkloses ʼn somer nie.

Puntemakers –

Bulls (3) 24: Drieë: Jesse Kriel, Jamba Ulengo, Jan Serfontein. Doelskoppe: Brummer 3.
Crusaders (31) 62: Drieë: Peter Samu, Tim Bateman, Scott Barrett, Jack Goodhue, Seta Tamanivalu, David Kaetau Havili, Andrew Makalio, Mitch Hunt. Doelskoppe: Richie Mo’unga 5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Frans C ·

Een van die Bulle se swakste vertonings vanjaar. Ek is bevrees dat soos die Bulle tans speel
gaan min van hulle die Springbokspan haal .

Ferreira ·

Hmm SA Rugby is stukkend. Dankie tog vir Sevens en die Proteas !!

Riaan ·

WHahahaha, dis mos nou hoe n bulls span pakslae kry, wonder of die bulls supporters more hulle truie gaan dra, hulle wen mos die trofee voor die reeks begin het.

Bittergal ·

Die enigste tyd wat die Bulle effens op hulle gemak gelyk het was toe hulle 10 keer agter hulle pale gestaan en staar het hoe die doelskop oor gaan..

Johan ·

Dieselfde Brummer wat die bal voor die pale mis geskop het teen die Sunwolfs?

SP ·

Op die onlangse Cosatuvergadering het die lede sulke rolbewegings met hul arms gemaak om aan te dui dat Zuma vervang moet word, dis nou tyd dat ons dit vir van Graan en sy hele bestuur doen. Die Bulle is op n totale laagtepunt en n absolute skande vir ons as ondersteuners

Louis ·

Dit is tyd dat ons spelers begin besef dat n bos hare op jou gesig of n moroonagtige haarstyl en n getatoeerde lyf wat jou soos n bandiet laat lyk nie van jou n beter rugbyspeler maak nie. Hulle moet die tyd wat hulle voor n spieel spandeer eerder gebruik om hulle skills op te knap.

Ben ·

Dit is nou tyd dat die Bulls van bo-af skoongemaak word.Ek stem saam met SP.

Frans C ·

Die Bulle kan nie hul foute weg kontrakteer nie,deur meer en meer spelers te kontrakteer nie en dan toelaat dat een van hul sterspelers ,Serfontein, oorsee gaan. Toe hy op die veld kom is daar lewe.

Nick Mallett bepleit ‘n samevoeging van die Leeus en Bulle,maar hoeveel Bulle gaan op huidige spelpeil so’n gekombineerde span haal.Nie eers Strauss sal dit mi maak nie, en wie gaan die span afrig?.

Arie ·

Ek stem volkome saam!!! Ons probleme begin BO en die spelers sukkel voort sonder enige afrigting!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Koos1 ·

Strauss hoor nie in enige span nie. Swak kaptein swak speler en swak besluit nemer. Hy lyk asof hy bang is om sy trui en broek vuil te maak as hy op die veld is. Dit is ‘n tendens van hom wat ek by die Vrystaat en Bokke opgetel het.

scalla ·

Patetiese vertoning, hul behoort geen vergoeding te kry vir daai wedstryd nie. Nollis moet nog inbetaal ook.

Ouman ·

Ondersteun bloues al vir amper 50 jaar maar nou is ek klaar met die patetiese spul .Tyd om skoon te maak van bo na onder. Bestuur , afrigtingspan en sekere spelers moet nou maar hulle tassies pak.

Davie ·

Teminste geniet Rudi Paige sy rugby..hy lag die heeltyd op die veld al is hulle 40 punte agter. Adriaan Strauss wat so baie duikslae mis en se die teenstanders was baie goed…Tiaan se mooi hare en Pierre Schoeman en sy liedjies en moenie vergeet van Jacques Potgieter se realiteits program die hele lot is daar vir n vet salaris en Worry meer oor hul kontrak en waar gaan hulle volgende n oorsese kontrak kry..dis absoluut n grap en kry alle Bulls ondersteuners erg jammer. Sterkte

Pietie ·

Ek het niks teen Strauss nie maar die ou kom uit ‘n provinsie wat gewoond is aan verloor. Dis fataal om so ‘n ou die kaptein van een van jou sterkste provinsies en die Bokke te maak. Jou kaptein moet uit ‘n suksesvolle omset/omgewing kom.

Wollie Wolmarans ·

Terloops dit is Tiaan Schoeman en nie Snyman. Raak van Nollis Marais ontslae. Hy kan die universiteite spanne afrig. Die vlak van afrigting pas hom nie. Dis tyd dat die BB aandag aan Jimmy Stonehouse moet gee. Hy is bereid om te help. Waar het jy gesien dat ‘n span soos die Sunwolfes die Bulle wen wat ‘n groentjie span in die Superreeks is. Whaa Bulle, word wakker.

Arie ·

Ag nee Wollie, wil jy dat Tukkies nou weer verloor? Daai ou hoort nie langs of op enige rugby veld nie!

Mariné Lourens ·

Dagsê Wollie Wolmarans

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Pieter ·

Ek stem saam..
Van Ludecke na Nollis..
Al wat konsekwent is , is die aanstelling van afrigters wat nog moet ondervinding op doen..en dit gebeur by laer vlak as super rugby of currie beter for that matter..
Kan mos nie as ons die selle twak oor en oor elke saterdag sien misgekyk word deur n paneel afrigters wat weet wat hulle doen nie…en betaal word vir dit..

Fires ·

Dit lyk my dis moeiliker om van Marais as van zuma ontslae te raak, het die man geen skaamte nie om elke week sy naam so met ‘n plank te slaan.
Maar hy word beskerm deur van Graan, daar moet van bo af skoon gemaak word.

Piet Pienaar ·

Raak liewer van Strauss ontslae. Kyk maar na al die spanne waar hy die kaptein was die afgelope vier jaar. Dit lyk asof die span doelbewus van die afrigters ontslae wou raak(Cheetahs, Springbokke en nou die Bulls.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.