Flou Drake kan weer vuur blaas

Jacques Nienaber. Foto: Twitter.

Kom ons wees eerlik met mekaar: Wallis sukkel deesdae so ’n bietjie op die internasionale rugbyverhoog.

Die Rooi Drake is tans negende op Wêreldrugby se ranglys, terwyl hulle ook sleg teen Italië in die afgelope Sesnasiesreeks verloor het. Boonop is hulle ook sonder ’n paar beseerde sterre vir hul komende toer na Suid-Afrika.

Tog meen die Springbok-breier Jacques Nienaber dat Wallis steeds gedugte teenstanders kan wees wanneer die eerste toets op 2 Julie in Pretoria afskop.

“As jy na die onlangse geskiedenis van ons wedstryde teen hulle kyk, glo ek dat die komende reeks ’n taai storie kan wees. Ons kon hulle byvoorbeeld verlede jaar vir die eerste keer in agt jaar in Wallis klop,” het Nienaber gesê.

Die Springbokke het daardie wedstryd in Cardiff met 23–18 gewen.

Vóór dit het Suid-Afrika die Wêreldbeker-halfeindstryd met drie punte gewen, terwyl Wallis in 2018 ’n toets in Cardiff met 20–11 beklink het.

“Wallis speel altyd fisieke rugby – hulle is sterk voorlangs, goed afgerig en takties slim. Hulle het ook die vorige keer dat ons teen hulle gespeel het, goed geskop en ons was in ons helfte van die veld vasgepen.”

Volgens Nienaber wil die Bokke op hul vertoning van verlede jaar verbeter.

Dit was omtrent ’n wipplankjaar vir die Springbokke waarin hulle agt van hul 13 toetse gewen het. Hulle het terselfdertyd 334 punte aangeteken en 224 afgestaan, terwyl hulle ook weg van die huis teen Australië verloor het.

“Sonder om alles onder ’n vergrootglas te plaas, glo ek dat daar fasette van ons spel is waarin ons kan verbeter. Een van die dinge waaraan ons aandag kan skenk, is om die span se diepte te vergroot; dit kan ons doen deur meer jong spelers deel van die opset te maak en om te sorg dat die spelers meer ervaring op toetsvlak kry.”

Op sy beurt het Wayne Pivac gesê dat Wallis wenrugby op die toer wil speel.

“Dit gaan natuurlik ’n groot uitdaging vir ons wees, maar ons wil graag die reeks wen. Goeie voorbereidingswerk sal egter die wagwoord wees; iets soos lugdruk is beslis ’n faktor op Loftus Versfeld,” het die afrigter van die Rooi Drake gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eden ·

Wallis het nie ‘n kans op SA se vinnige velde nie. Dis nogal jammer, ek ondersteun die ouers bo Rassie se transformate.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.