Fluit-fluit, Owens se skeidsregterstorie dalk amper uit?

Nigel Owens. Foto: Charly Triballeau/AFP.

Saterdag se toets tussen Frankryk en Italië in Parys sal Nigel Owens se 100ste keer in beheer van ’n internasionale rugbywedstryd wees.

Die gewilde Walliese skeidsregter het ’n stel spesiaal vervaardigde fluitjies ontvang om die geleentheid te gedenk.

Maar die kans is goed dat dit ook die laaste toets van sy roemryke loopbaan kan wees. Die 49-jarige skeidsregter het in ’n onderhoud met The Telegraph gesê dat hy moontlik aan die einde van die jaar sy uittrede sal aankondig.

Dit kom te midde van Wêreldrugby se poging om jonger skeidsregters vir die volgende Wêreldbeker-rugbytoernooi in 2023 gereed te kry.

“Hierdie seisoen sal my laaste op toetsvlak wees en waarskynlik ook in ander beroepswedstryde,” het Owens gesê.

“Ek kan dit verstaan dat as ek oor drie jaar nie deel van die Wêreldbeker-planne is nie, hulle my ook nie nou vir ander wedstryde sal kies nie. Ek gaan die komende wedstryd geniet want eendag – wanneer ek na my loopbaan terugkyk – kan dit dalk my laaste toets wees.”

Owens het in 2003 sy skeidsregterbuiging op die internasionale verhoog gemaak en hy was in vier Wêreldbeker-toernooie (in 2007, 2011, 2015 en 2019) in aksie.

Hy was ook aan die stuur van sake toe die All Blacks die Wallabies in die 2015-eindstryd op Twickenham geklop het.

Foto: Twitter.

“Ek is baie trots om die mylpaal hierdie naweek te bereik; ek het nooit gedink dat ek in 100 toetse sou wees nie. Ek geniet steeds my werk en ek voel dat ek nog na wense presteer.”

Die goedhartige Owens skroom ook nie om die fluitjie ten bate van liefdadigheid te blaas nie.

Hy het verlede jaar op sosiale media ingestem om deel van die aksie te wees in ’n wedstryd ten bate van die sewejarige Luke Mortimer.

Mortimer het in Desember 2018 breinvliesontsteking opgedoen en hoewel hy die gevaarlike virus oorwin het, het die operasies hul tol geëis. Albei sy hande en sy bene (net onder die knieë) is geamputeer.

Hy was ’n geesdriftige rugbyondersteuner en die plaaslike rugbygemeenskap het ’n liefdadigheidswedstryd ten bate van hom gereël om met sy mediese uitgawes te help.

Yorkshire Dales Bushcraft het Owens op Twitter gevra hoeveel dit sal kos as hy aan die stuur van die wedstryd sal wees.

“Daar sal absoluut geen koste aan verbonde wees om as skeidsregter ten bate van die jong man op te tree nie. Dit sal vir my ’n eer wees,” was die vrolike skeidsregter se onmiddellike antwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

Owens, dit vat ‘n man om al 100 teotse te geblaas het.
Dankie dat jy ook terug gee.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Respek, Owens. Ek het ‘n paar naweek- en skole-wedstryde gedoen. Jy moet jou spel ken en ‘n uiters goeie oog hê, veral op sy vlak.

Eend Bessinger ·

Respek vir hierdie man! Om meer as ‘n duisend keer op ‘n veld te stap en party spelers verkeerd op te vryf vat ‘n baie spesiale mens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.