Folau begin met hofverrigtinge teen Rugby Australië

Israel Folau. Foto: Facebook.

Die gewese Australiese rugbyster, Israel Folau, het op sosiale media aangekondig dat hy met hofverrigtinge teen Rugby Australië en die New South Wales Waratahs gaan begin.

Die 30-jarige Folau, netjies geklee in ’n baadjie en witkraaghemp, het in die video sy ondersteuners bedank vir hul volgehoue ondersteuning oor die afgelope paar maande.

Die heelagter het in Aprilmaand op sy Instagram-rekening geplaas dat hel op dronkaards, homoseksuele persone, leuenaars, hoereerders, diewe, ateïste en afgodedienaars wag, tensy hulle hulself bekeer.

Hy het bygevoeg dat net “Jesus kan red”.

Folau se kommentaar is deur Rugby Australië (RA) veroordeel en hulle het sy kontrak beëindig. Die sportbeheerliggaam het aangevoer dat sy inskrywing die spelers se etiese kode verbreek het en dat dit ’n minagtende gebruik van sosiale media was.

Volgens berigte eis die speler nou A$10 miljoen én om weer vir die nasionale span gekies te word.

Hy het in Junie A$2 miljoen vir sy hofgeding deur ’n skarefinansieringsprojek ingesamel. Dít nadat sy eerste projek deur GoFundMe gekortwiek is. Hulle het aangevoer dat sy veldtog diskriminasie aanhits.

“Ek is dankbaar vir almal se ondersteuning in hierdie tydperk. Dit beteken so baie vir my en Maria (sy vrou, die Nieu-Seelandse netbaldoelskieter). Mag die Here julle seën,” het hy getwiet.

Volgens regskenners in Australië kan die Folau/RA-hofsaak ’n presedent vir toekomstige werkskontrakte skep.

“Daar is nog geen definitiewe beslissing oor die konflik tussen ’n werkgewer se reg om die werknemer se kommentaar op sosiale media te beheer; en politieke en geloofsvryheid nie,” het regsprofessor Anthony Forsyth in The Conversation geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Aksie SA ·

AMEN! Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die magte en owerhede en bose geeste in die lug. Ons het mag om op slange en skerpioene te trap en al die krag van die vyand…. eer aan Vaer God alleen, Hy is ons Regter, Aaanvoerder en Koning!

Schalk ·

Sterkte vir Folau om op te staan wat hy in glo en eerbied.

Kiewiet ·

Hy gaan sy hofsake ook wen. Want hy staan op vir sy Godsdiens en vir dinge wat staan in die Bybel.

Niklaas ·

Ek twyfel of hy weer sal kan speel vir Australië , maar hy was beslis een van die Wallabies se beste spelers in jare ! Sterk en vinnig . Hul sal hom nog baie mis en hy kon nog 3-4 jaar gespeel het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.