Folau het WB-drome saam met Tonga

Israel Folau. Foto: Twitter.

Israel Folau kwalifiseer om vir Tonga te speel en die agterspeler droom daarvan om weer sy vaardighede by ’n Wêreldbeker-toernooi uit te stal.

“Dit sal ’n groot eer wees as ek die geleentheid kry. Ek sal baie daarvan hou om die Tonga-trui oor my kop te trek en om die land te verteenwoordig,” het Folau in ’n onderhoud met AFP gesê.

Wêreldrugby het verlede jaar aan sy kiesbaarheidsregulasies geskaaf en spelers mag nou van internasionale spanne verander, mits die betrokke speler nie in drie jaar vir sy huidige nasionale span in aksie was nie en sy ouers/grootouers in die land gebore is wat hy nou wil verteenwoordig.

“Om jou erfenis en jou ouers te verteenwoordig is iets wat baie belangrik is. Nie net vir myself nie, maar waarskynlik ook vir elke Polinesiër.”

Folau het die laaste van sy 73 Wallabies-toetse op Twickenham teen Engeland gespeel en hy was sedertdien in ’n regsgeding met Rugby Australië (RA) betrokke.

Israel Folau. Foto: Twitter. 

Die uitgesproke Christen het in April 2019 die volgende op sy Instagram-rekening geplaas: “Dronkaards, homoseksuele persone, egbrekers, leuenaars, hoereerders, diewe, ateïste en afgodedienaars – hel wag vir julle.”

Hy het bygevoeg dat hulle hulself moet bekeer en dat net “Jesus kan red”.

Folau se kommentaar is deur RA veroordeel en hulle het die talentvolle speler se kontrak beëindig. Die sportbeheerliggaam het aangevoer dat sy inskrywing die spelers se etiese kode verbreek het en dat dit ’n minagtende gebruik van sosiale media was.

Die twee partye het in 2019 ’n skikkingsooreenkoms bereik.

Die 32-jarige speler het onlangs ook koerantopskrifte gehaal toe hy staande gebly het terwyl van sy Catalans Dragons-spanmaats besluit het om die knie ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging te buig.

Hoewel sy aksie kritiek ontlok het, het Steve McNamara (afrigter) gesê dat dit die speler se persoonlike keuse is.

Folau hou die rekord vir die meeste Superrugby-drieë (60) en sy uitstaande spel is drie keer met die John Eales-medalje beloon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

krodedil ·

Een van my gunteling spelers met propvol talent. Folau gaan ‘n groot verskil maak saam met Tonga.

Treurwilger ·

Izzy Izzy Izzy!
Sal nooit sy uitbundige vreugde met elke drie vergeet nie.
Wallabies se verlies is Tonga se gróót wins!

Drie dinge t.o.v. die land Doer Onder grief iets vreesliks: Folau, Novak en Covid-histerie.
Wat ‘n spul drama-queens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.