Folau, Rugby Australië bereik skikking

Israel Folau. Foto: Facebook.

Die sterrugbyspeler, Israel Folau, en Rugby Australië (RA) het uiteindelik tot ’n verstandhouding gekom.

Die 30-jarige heelagter het in April op sy Instagram-rekening geplaas dat hel op dronkaards, homoseksuele persone, leuenaars, hoereerders, diewe, ateïste en afgodedienaars wag, tensy hulle hulself bekeer. Hy het bygevoeg dat net “Jesus kan red”.

Folau se kommentaar is deur RA veroordeel en hulle het sy kontrak beëindig. Die sportbeheerliggaam het aangevoer dat sy inskrywing die spelers se etiese kode verbreek het en dat dit ’n minagtende gebruik van sosiale media was.

Op sy beurt het Folau weer skadevergoeding van R140 miljoen geëis.

Maar in ’n gesamentlike verklaring op sosiale media lyk dit asof die betrokke partye tot ’n skikking gekom het.

“Die inskrywing op sosiale media het mnr. Folau se opregte geloofsoortuigings weerspieël. Terselfdertyd het hy nie bedoel om enige persoon aanstoot te gee toe hy die inskrywing gemaak het nie.”

Daar staan verder dat Folau nie diskriminasie van enige aard goedkeur nie en dat hy RA se beleid van diversiteit ondersteun.

Daarteenoor het RA en New South Wales Rugby gesê dat hulle hoegenaamd nie met Folau se inskrywing saamstem nie.

“Inklusiwiteit is een van rugby se hoofwaardes en die spel verwelkom alle persone; insluitende homoseksuele individue.”

Daar is nie verder uitgebrei oor die presiese skikkingsooreenkoms nie.

“Rugby Australië en mnr. Folau wens mekaar voorspoed toe vir die toekoms.”

Tog het die Waratahs-heelagter later sy stilte verbreek en ’n video op sosiale media gelaai waarin hy sy ondersteuners, familie en mede-kerklidmate vir hul ondersteuning bedank het.

Folau – netjies geklee in ʼn pak – het langs sy vrou, Maria, ʼn Nieu-Seelandse netbalspeler, gestaan.

“Ons is baie tevrede met die ooreenkoms wat vandag bereik is. Met Rugby Australië wat om verskoning gevra het, voel ons dat regverdigheid geseëvier het en dat ons met ons lewens kan voortgaan. Ons kan nou op ons geloof en familie konsentreer,” het Folau gesê.

“Ek en Maria wil vir God loof vir sy wysheid en krag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

DG ·

Vryheid van spraak is baie belangrik, en dit geld ook daarvoor dat jy die reg het om nie saam met die LGBTQ agenda te stem nie, en ook uitsprake daaroor te maak. Gelukkigs is daar al hoe meer duidelikheid in SA, wat haatspraak is, en nie is nie. Ek is baie bly die saak het goed ge-eindig.

herman Goosen ·

“Etiese kodes verbreek” Wat ‘n grap! Geen wonder ons leef in so ‘n sieklike sosiale wereld nie. Immoraliteit mag nie veroordeel word nie. Wel dit vat mense met durf om hierdie siek polities korrekte gemeenskap van ons aan te vat. Wel gedaan Mnr Folau!

jakes ·

Folau se geloof en die uitleef daarvan is prysenswaardig. Dit is lankal hoogtyd dat mense hulle moet uitspreek teen die euwels in ons samelewing. Daar is miljoene mense wereldwyd wat Folau se beginsels nastreef en is ek een van hulle. Die mensdom het siek geword en word dit nou as die norm aanvaar.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.