Folau weer op internasionale verhoog

Israel Folau is deel van Tonga se rugbygroep. Foto: Ben Stansall/AFP.

Israel Folau is deel van die Tonga-groep wat in Julie aan die Pasifiese Nasiesbeker-reeks deelneem. Dit sal die 33-jarige agterspeler se eerste proesel van internasionale rugby in ’n paar jaar wees – sy laaste verskyning vir die Wallabies was op 24 November 2018 teen Engeland op Twickenham.

Sedertdien was hy onder meer in ’n regsgeding met Rugby Australië (RA) betrokke.

Die uitgesproke Christen het in April 2019 die volgende op sy Instagram-rekening geplaas: “Dronkaards, homoseksuele persone, egbrekers, leuenaars, hoereerders, diewe, ateïste en afgodedienaars – hel wag vir julle.”

Hy het bygevoeg dat hulle hulself moet bekeer en dat net “Jesus kan red”.

Folau se kommentaar is deur RA veroordeel en hulle het die talentvolle speler se kontrak beëindig. Die sportbeheerliggaam het aangevoer dat sy inskrywing die spelers se etiese kode verbreek het en dat dit ’n minagtende gebruik van sosiale media was.

Die twee partye het in 2019 ’n skikkingsooreenkoms bereik.

Wêreldrugby het egter verlede jaar aan sy kiesbaarheidsregulasies geskaaf en spelers mag nou van internasionale spanne verander, mits die betrokke speler nie in drie jaar vir sy huidige nasionale span in aksie was nie en sy ouers of grootouers in die land gebore is wat hy nou wil verteenwoordig.

Volgens Toutai Kefu (Tonga-afrigter) is die span opgewonde om ’n speler van Folau se kaliber in sy geledere te hê.

“Ons sal beslis by sy ondervinding kan baat en sy teenwoordigheid is ongetwyfeld een van die dinge waarna ons die meeste uitsien.”

Op sy beurt het Folau al vantevore gesê dat dit ’n eer vir hom sal wees om die Tonga-trui oor sy kop te trek.

“Om jou erfenis en jou ouers te verteenwoordig is iets wat baie belangrik is. Nie net vir myself nie, maar waarskynlik ook vir elke Polinesiër,” het Folau gesê.

  • Die Pasifiese Nasiesbeker begin amptelik op 2 Julie en Tonga sal onder meer teen Fidji en Samoa in aksie wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Ek weet nie van een persoon wat nog nie ‘n leuen vertel het nie………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.