Force: ARU weier miljoene; met teenreeks gedreig

Die Australiese Rugbyunie (ARU) het glo miljoene Australiese dollar om Aussie-rugby se toekoms te verseker, geweier eerder as om die Western Force te behou; en daar is sprake van ʼn teenvoeter-reeks met die Perth-span as anker.

Luidens berigte uit Australië het die mynmagnaat Andrew Forrest dié liggaam tot AUS$50 miljoen (sowat R523 miljoen) vir voetsoolvlakrugby aangebied as deel van ʼn transaksie om die Force se toekoms te verseker.

Dit is glo summier verwerp in die jongste verwikkeling in die ongure stryd om die Perth-gebaseerde span te red.

Forrest het blykbaar ook reeds die ARU gewaarsku dat hy die moontlikheid sal ondersoek om ʼn teenvoeter vir Superrugby tot stand te bring. Dit sal in Perth gesetel wees, en kan spanne uit die Indiese en Stille Oseaan-gebied insluit.

Na wat berig word, het Forrest se aanbod gevolg op ʼn stelling van die ARU dat die afskaffing van die Force jaarliks AUS$6 miljoen (sowat R63 miljoen) vir rugby op voetsoolvlak beskikbaar sou stel.

As deel van die ooreenkoms sou hy die Force se volle onderskrywing onvoorwaardelik waarborg.

Forrest, Geoff Stooke (wat, uit gebelgdheid deur die ARU se hantering van die Force, uit die liggaam se raad bedank het) en die gewese Force- en Wallaby-speler John Wellborne het die voorstel Dinsdag drie uur lank met die ARU bespreek.

Die beheerliggaam se verteenwoordigers Cameron Clyne (voorsitter), Brett Robinson (adjunk-voorsitter) en John Eales (ʼn raadslid en ʼn gewese Wallaby-kaptein), het egter voet by stuk gehou dat die Force se dae getel is.

Intussen word die uitslag van die Force se appèl teen die opskorting van sy lisensie afgewag, en hou die Wes-Australiese regering by sy voorneme om die ARU vir nagenoeg AUS$100 miljoen (meer as R1 miljard) te dagvaar om geld wat hy aan die opknapping van die Force-stadion en -hoofkantoor bestee het te verhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Veritas ·

Dit wil voorkom of rugby se dae min word. Nog een van geldrugby se gevolge.

Nico K ·

Nee Veritas. Ek het nog nie agtergekom dat sokker, of tennis of golf opgehou bestaan het sedert hulle ‘n beroepsport geword het nie. Beroepsport is deel van die lewe en daar is niks wat iemand daaraan kan doen nie.

Chris Ws ·

Daars niks fout met beroeps sport nie.Die probleem le by tv dekking waarvoor mens ‘n arm en been moet opok.DIT het my belangstelling in rugby heeltemal laat stop.Ten minste kan ek oorsese sokker gratis kyk .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.