Force lok groter skares as Aussie-Superrugby

Brynard Stander – “Force het laat slap le”. (Foto: Western Force)

Dis seker ʼn bitter pil vir die Australiese rugbybase om te sluk dat die Western Force in sy eerste twee wedstryde in Andrew Forrest se Wêreldrugbyreeks (WSR) groter skares gelok het as wat enige Superrugbywedstryd vanjaar in Australië kon regkry.

Volgens die SH Rugby Blog, wat die toeskouersyfers deurlopend monitor, is die Force se wedstryde teen Fidji se Warriors en Tonga deur gemiddeld 17 895 toeskouers bygewoon.

Die hoogste bywoningsyfer vir ʼn Superrugbywedstryd vanjaar was die 16 135 toeskouers wat die wedstryd tussen die Rebels en die Hurricanes bygewoon het (en raai wie was die trekpleister).

Op die oog af lok die Waratahs met ʼn gemiddeld van 13 912 die meeste toeskouers. Dis egter op twee werklike syfers en ʼn koerant se raming vir ʼn derde wedstryd geskoei, want syfers vir drie van die Sydney-span se vyf wedstryde is nie bekend gemaak nie.

Die Reds lok gemiddeld 12 308 per wedstryd, die Rebels (wat ten koste van die Force in Superrugby behou is) 12 308, en die Brumbies 8 464.

♦ Die Wes-Australiërs het Sondag in Perth met 47-17 teen Tonga gewen (rustyd 21-17).

Die oud-Stormer Marcel Brache het twee drieë vir die wenspan gedruk.

Die Force se onderkaptein en ʼn gewese Curriebekerspeler van die Sharks, Brynard Stander, het aan Westernforce.com.au gesê die span het die laaste deel van die eerste helfte laat slap lê en die Tongane kans gegee om op ʼn 3-21-agterstand in te haal. Toe die Force in die tweede helfte regruk het hy egter ʼn klompie puik drieë gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.