Force met 7 uit SA herleef in nuwe Wêreldreeks

Die Western Force-redder, Andrew Forrest, het Dinsdag sy nuwe Wêreldreeksrugby (WSR) in Perth aangekondig saam met ʼn herleefde Force-groep wat sewe spelers wat bande met Suid-Afrika het insluit.

Vanjaar se reeks van sewe wedstryde tussen Mei en Augustus sluit benewens botsings teen spanne uit Fidji, Tonga, Samoa en Hongkong ook kragmetings in met twee Superrugbyspanne, die Crusaders en die Rebels. Die sewende wedstryd moet nog bepaal word.

Die Crusaders is die huidige Superrugby-kampioen – maar ʼn mens kan maar aanvaar hy sal nie sy groot kanonne in die stryd werp nie – en die Rebels het in teenstelling met die Force  die Superreeksvalbyl vrygespring.

Dit dien as ʼn proeflopie voordat die WSR aanstaande jaar – onderhewig aan die Australiese Rugbyunie (ARU) se goedkeuring – in alle erns afskop.

Die Wallaby-legende Michael Lynagh (72 toetse van 1984 tot 1995) tree as raadgewer vir die reeks op, wat glo onder meer oorweeg om met ʼn tienpuntdrie proefnemings te doen.

Twee oud-Springbokke, Jaque Fourie (72 toetse van 2003 tot 2013) en Peter Grant (vyf toetse van 2007 tot 2008) is in die groep ingesluit, en Fourie sal in die eerste plek as hulpafrigter optree.

Ander spelers met Suid-Afrikaanse bande is Marcel Brache (ʼn Amerikaanse toetsspeler wat vir die Stormers gespeel het), Chris Heiberg (ʼn gewese stut van die Stormers en die Kings), Brynard Stander (Curriebekerrugby vir die Sharks), Ryan Louwrens (Valke o.19) en Chris Alcock (in Durban gebore).

Behalwe Fourie het almal Superrugby vir die Force gespeel.

Die Force sal ná afloop van die reeks Perth Spirit as Wes-Australië se verteenwoordiger in die Australiese provinsiale kampioenskap (APC) vervang.

Die WSR sou vroeër as die Indo-Stille Oseaan-rugbykampioenskap (IPRC) bekend gestaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.