‘Force se reeks omvat 60% van wêreldbevolking’

Andrew Forrest – mik hoog. (Foto: Facebook)

Die Australiese mynmagnaat Andrew Forrest se beoogde Indo- Stille Oseaan-rugbykampioenskap (IPRC) sal 60% van die wêreldbevolking insluit, en moet oor die lang termyn die gewildste rugbyreeks ter wêreld word.

Dit het blyk uit inligting wat hy aan die media bekend gemaak het oor die voorstel wat hy by die Australiese Rugbyunie (ARU) vir goedkeuring ingedien het.

Forrest hoop om binne ʼn week sodanige goedkeuring te kry, sodat hy die plan op 14 November aan Wêreldrugby kan voorlê.

Die ARU moet die reeks in beginsel goedkeur; die verkiesbaarheid vir die Wallabies bevestig van spelers wat vir die Western Force speel; en ʼn voorkeur-tydgleuf verklaar.

Forrest se aanvanklike plan is om ses spanne in ses verskillende markte te betrek in ʼn tydsone wat 60% van die wêreldbevolking insluit.

Dit sal reeds aanstaande jaar, of op sy laatste in 2019 van stapel laat loop word.

Die mynbaas het met die gedagte van die nuwe reeks vorendag gekom toe die Force uit die Superrugbyreeks gesit is.

Hoewel die Wes-Australiese franchise aanvanklik die enigste Australiese span in die reeks sal wees, voorsien hy dat dit uitgebrei kan word.

Forrest se plan sluit in om die uitvloei van Australiese spelers na Europa en Japan te stuit met salarisse wat met dié van oorsee tred hou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.