Foster kies sy eerste All Black-span

Die Suid-span vier hul oorwinning in die doodsnikke van die wedstryd. Foto: Twitter.

Nieu-Seeland se Noord- en Suid-spanne het mekaar gister in ’n aanskoulike proewe-wedstryd getakel. En soos in ʼn tipiese Kiwi-affêre was dit gelaai met flair, drieë, drama en hope individuele briljantheid.

Soos al gereeld vantevore gesê is: Die Nieu-Seelanders het maar net die vermoë om rugby lekker te laat lyk.

Die Suide het die wedstryd in die doodsnikke met 38 – 35 gewen toe die driedrukmasjien Will Jordan sy ore platgetrek het en die kragmeting op ’n briljante wyse vir sy span beklink het.

Die wedstryd was trouens só ’n groot skouspel dat talle spelers, kenners en ondersteuners gevra het dat dit sommer ’n paar keer gedurende die jaar gespeel moet word.

Maar terug na Foster se span.

Die nuwe All Blacks-breier het die moeilike taak om in Steve Hansen – waarskynlik een van die beste afrigters ooit – se spore te volg, terwyl die Covid-19-pandemie ook sake bemoeilik het.

Hoewel gister ’n proewe-wedstryd was, het Foster steeds spelers soos Alex Hodgman gekies, selfs al het hy die kragmeting misgeloop. Goeie spelpeil gedurende die Aotearoa-reeks het dus baie in ’n speler se guns getel.

Dan is daar ’n rits nuwe spelers wat hul buiging in die swart trui kan maak. Hodgman, Quinten Strange, Tupu Vaa’i, Cullen Grace, Hoskins Sotutu, Caleb Clarke en die vlieënde Jordan kan almal hul eerste internasionale wedstryd vir die Nieu-Seelanders speel.

“Ons was nie veel deur gisteraand se wedstryd beïnvloed nie. Ons is egter net weer hier en daar herinner dat van die spelers wat dit nie gemaak het nie, ongelooflik graag deel van die span wil wees. Daar was waarskynlik net een speler in ons 35 oor wie ons ’n paar aspekte wou bevestig, maar ons is baie tevrede met hoe dinge uitgedraai het,” het Foster gesê.

Foster se groep van 35 spelers:

Voorspelers: Alex Hodgman, Nepo Laulala, Joe Moody, Karl Tu’inukuafe, Tyrel Lomax, Ofa Tu’ungafasi, Dane Coles, Codie Taylor, Asofa Aumua, Patrick Tuipulotu, Sam Whitelock, Tupou Vaa’i, Quinten Strange, Sam Cane, Cullen Grace, Adrie Savea, Hoskins Sotutu, Akira Ioane, Dalton Papalii en Shannon Frizell.

Agterspelers: Aaron Smith, TJ Perenara, Brad Weber, Richie Mo’unga, Beauden Barrett, Jack Goodhue, Anton Lienert-Brown, Rieko Ioane, Braydon Ennor, Jordie Barrett, Sevu Reece, Caleb Clarke, George Bridge, Will Jordan en Damian McKenzie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Die wedstryd beklemtoon weereens die balvaardighede van die Kiwis en dit is duidelik dat dit van jongs af geoefen is anders as in Suid Afrika waar veral baie laerskoolafrigters die bal in die hande van die grootste voorspeler wil sien om ‘n pad oop te stomroller terwyl kleiner spelers soos vinke aan ‘n nes hom probeer plattrek.

Dit bly vir my een van die groot raaisels van Suid Afrikaanse rugby-jaar in jaar uit sien ‘n mens skitterende skolerugby maar later is dit ‘n stamp en stoot affêre op provinsiale vlak.Geld die ou begrip dan nie meer-dat solank jy die bal oordeelkundig dra en versprei is daar vyf punte in jou hande totdat jy besit afstaan deur bv die bal net weg te skop of in die laagvat te verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.