Ian Foster het toe daad by die woord gevoeg en sy sterkste beskikbare span vir Vrydag se Wêreldbeker-opwarmingswedstryd teen die Springbokke gekies.
Sam Cane sal ʼn gevestigde span aanvoer en hy kan op die ervaring van senior spelers soos Beauden Barrett, Aaron Smith, Ardie Savea, Sam Whitelock en Dane Coles steun om hom tydens die kragmeting by te staan.
Foster het altesaam 11 veranderinge aan die opdrafspan aangebring wat die Wallabies in Dunedin geklop het.
Benewens Beauden Barrett is die vlugvoetige Will Jordan en Mark Telea van die gevaarmanne in die agterlyn, terwyl Jordie Barrett se grootte van hom ʼn gedugte teenstander in die middeveld maak.
Die 26-jarige Luke Jacobson sal die no. 6-trui dra en hy sal sy bes doen om die beseerde Shannon Frizell se skoene vol te staan.
ʼn Paar Springbok-spelers het vandeesweek gesê dat hulle oorgehaal is om vir die Auckland-nederlaag te vergoed, maar die werklikheid is dat die All Blacks nog onoorwonne vanjaar is.
Hulle het reeds 19 drieë in hul vier wedstryde gedruk en hulle laat dit oudergewoonte lekker lyk om rugby te speel.
Ja-nee, die Bokke se ware Wêreldbeker-gereedheidstoets wag Vrydag teen die Nieu-Seelanders.
All Blacks: Beauden Barrett (heelagter), Will Jordan (regtervleuel), Rieko Ioane (buitesenter), Jordie Barrett (binnesenter), Mark Telea (linkervleuel), Richie Mo’unga (losskakel), Aaron Smith (skrumskakel), Ardie Savea (agtsteman), Sam Cane (kaptein en flank), Luke Jacobson (flank), Scott Barrett (slot), Sam Whitelock (slot), Tyrel Lomax (stut), Dane Coles (haker) en Ethan de Groot (stut). Plaasvervangers: Samisoni Taukei’aho, Tamaiti Williams, Fletcher Newell, Josh Lord, Tupou Vaa’i, Dalton Papali’i, Cam Roigard en Anton Lienert-Brown.
Ek kan my verkyk aan die All Blacks. Voor elke wedstryd dan gooi hulle hul hande in die lig en vra baie mooi om hulp. Verstaan nie mooi wat hulle sê nie. Anderkant staan ons manne en lag. Sies vir julle!
Gewoonlik (omtrent altyd) lag hulle egter laaste.
Ek is n groot Springbok ondersteuner. Maar…..
Is nie ‘n vol sterkte span nie, maar sterk genoeg om die bokke te wen.