Foster verlang na SA Superspanne

Ian Foster. Foto: All Blacks/Facebook

Die Bulls, Stormers, Sharks en Lions speel deesdae teen Europese teenstanders in die Verenigde Rugbykampioenskap. Ná ’n stadige aanloop tot die reeks – om eerlik te wees, enige span sukkel aanvanklik om sy voete in ’n nuwe kompetisie te vind – kan drie van die Suid-Afrikaanse spanne nou vir die toernooi se uitspeelrondes kwalifiseer.

Ná ’n reeks of twee van interne wedstryde speel Australiese en Nieu-Seelandse spanne weer teen mekaar in die Pasifiese Supertoernooi, maar daar word (veral in Nieu-Seelandse rugbykringe) na Suid-Afrikaanse teenstanders verlang.

“In ’n perfekte wêreld sou ek mal wees daaroor as Suid-Afrikaanse spanne nog in die kompetisie was. Hulle het hul eie unieke stempel op die spel afgedruk en ons sal nou ander maniere moet vind om soortgelyke ondervinding op te bou; veral met die oog op internasionale toetse tussen die All Blacks en die Springbokke,” het Ian Foster gesê.

Terwyl verskeie oudspelers, onder wie Sean Fitzpatrick, al in die verlede na Suid-Afrikaanse rugby gekap het, meen die Kiwi-afrigter dit is belangrik vir Nieu-Seelandse spelers om hulself teen spanne buite hul landsgrense te meet.

En veral dan Suid-Afrikaanse spanne.

Te midde van ’n groot moontlikheid dat die Springbokke ook binnekort die Rugbykampioenskap vir die Sesnasies-reeks in Europa kan verruil, kan rugbyliefhebbers darem vanjaar na ’n paar toetse tussen die Bokke en die All Blacks uitsien.

Hulle speel op 6 en 13 Augustus onderskeidelik in Mbombela (Nelspruit) en Johannesburg teen mekaar.

“Persoonlik hoop ek nie dat die Bokke aan die Rugbykampioenskap onttrek nie. Hulle het so ’n ryke tradisie teen die All Blacks,” het James Parsons, oudhaker van die Blues, in ’n aanlyn uitsending gesê.

Die twee trotse rugbylande het al 100 toetse teen mekaar gespeel en verlede jaar se wedstryde was twee naelbytstories: Die All Blacks het eers met twee punte in Townsville gewen, waarna die Suid-Afrikaners ’n week later die bordjies met ’n heldhaftige vertoning verhang het.

Die Nieu-Seelanders het in 60 van die toetse tussen die twee lande koning gekraai, terwyl die Springbokke 37 keer aan die wenkant was. Daar was ook vier gelykopuitslae.

“Wanneer ’n All Black-speler gevra word om ’n lys van sy taaiste teenstanders op te stel, sal hy waarskynlik die name van ’n paar Suid-Afrikaanse spelers neerpen. Ek dink dit is ’n klinkklare bewys van hoeveel respek ons vir hul spel het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Dit is eenvoudig nie haalbaar vir die Springbokke om in die Sesnasies reeks te speel nie. Hoe wil hulle dit doen? Alles wegwedstryde vir die Bokke of gaan daar verwag word dat spanne uit die noorde in snikhete somersdae in Suid-Afrika moet rugby speel? Ek wens mense wil ophou hieroor spekuleer. Dit is ‘n waansinnige doodgebore gedagte.

Jan ·

Foster is in elkgeval nie ‘n goeie afrigter nie.Hy laat my aan snorre en kie dink

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.