Foto’s: Rooi Drake spoeg vuur teen Georgië

Wallis se Josh Adams duik oor die doellyn. Foto: (AP Photo/Christophe Ena)

Vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi word nie in September gewen nie, maar geoordeel aan Wallis se vertoning in Maandag se eerste helfte van sy kragmeting in Groep D teen Georgië in die City of Toyota-stadion, gaan die Rooi Drake baie verder vorder.

Wallis het met 43 – 14 gewen en was rustyd reeds met 29 – 0 voor, wat ʼn bonuspunt vir vier drieë beteken het.

Hulle het in die tweede helfte na tweede rat afgeskaal en die Georgiane toegelaat om twee drieë te druk om verlore aansien te herwin en te toon hoekom hulle daarop aanspraak kan maak om saam met die groot honde in Europa te blaf.

Wallis se vertoning in die eerste helfte was naas Ierland se oorwinning Sondag oor die Skotte, die mees kliniese tot dusver in die toernooi, en dit sluit die All Blacks, Bokke en Engeland in.

Wallis se Justin Tipuric duik oor die doellyn. Foto: (AP Photo/Christophe Ena)

Hulle was vol ondernemingsgees, het hul agterspelers ingespan en die basiese beginsels reg toegepas.

Hulle is boonop geloot in ʼn maklike groep, saam met Australië, Fidji, Georgië en Uruguay.

Die span wat bo in Groep D eindig, kom in een van die kwarteindrondes teen die span te staan wat tweede in Groep C eindig en andersom.

Dit lyk in die stadium of dit Engeland (eerste) en Frankryk sal wees, met Argentinië wat steeds ʼn buitekans het as die Poemas Engeland kan klop.

Maar Wallis se paadjie na die kwarteindronde lyk reeds uitgestippel.

* Punte: Wallis 43 (29): Drieë: Josh Adams, Jonathan Davies, George North, Justin Tipuric, Liam Williams, Tomos Williams. Doelskoppe: Dan Biggar (4), Leigh Halfpenny. Strafdoel: Biggar.

Georgië 14 (0): Drieë: Levan Chilachava, Shalva Mamukashvili. Doelskoppe: Tedo Abzhandadze (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.