Foto’s: Stormende Bulls straf stomme Sharks

Wanneer Cornal Hendricks op dreef is, moet selfs die skeidsregter koes. Foto: GB Jordaan.

Sedert beroepsrugby in Suid-Afrika hervat is, kan die Bulls amper met Katy Perry se Hot N Cold-treffer vergelyk word.

Want hulle blaas taamlik koud teen die Griekwas en die Cheetahs, maar teen die arme Sharks is hul spel warmer as daardie rooi pakkie Fox Nax-skyfies wat jy op laerskool gekoop het.

Duane Vermeulen se span het vir die tweede keer die afgelope ruk met die louere teen die Durbaniete weggestap toe hulle gisteraand met 41 – 14 op Loftus Versfeld baas was.

Die tuisspan het die spel oorheers en het ses drieë – selfs later in gietende reën – teenoor die Sharks se een gedruk.

Nadat Curwin Bosch se skopskoen gesorg het dat die besoekers ná 25 minute se spel voorgeloop het, het die Bulls se opwindende agterlyn uiteindelik vlam gevat.

Stedman Gans. Foto: GB Jordaan.

Cornal Hendricks het eers soos ’n warm mes deur die Sharks se bottervinger-verdediging gesny, waarna Stedman Gans met ’n zoep-zap-en-zirts-lopie van sy eie vorendag gekom het om die beweging perfek onder die pale af te rond.

En daarna was dit so te sê eenrigtingverkeer.

Die Bulls se hantering en samespel was eerstens uit die boonste rakke; jy weet dit is jou aand op ’n rugbyveld wanneer ’n spanmaat selfs jou wildste aangee kan raak vang.

Verder het ’n rolmaalbeweging vir ’n tradisionele Pretoria-drie gesorg, hul verdediging was rotsvas en Morné Steyn se steekskoppies was met tye meer akkuraat as jou munisipale rekening.

O ja, dan het die Bulls-agterlyn – met Gans en Kurt-Lee Arendse voor in die koor – net hopeloos te veel skietgoed gehad.

Kurt-Lee Arendse. Foto: GB Jordaan.

Later in die wedstryd het die reën dinge aansienlik bemoeilik, maar die Bulls het twee verdere drieë gedruk.

Die Pretorianers se plaasvervangerskrumskakel Embrose Papier het in sy Hoërskool Garsfontein-skooldae so te sê eiehandig vir HTS Middelburg in ’n uitspeelstryd van die destydse Beeldtrofee gesink.

En hy het gisteraand weer daardie einste vaardighede en talent uitgestal toe hy so tussendeur die weerligstrale en vet reëndruppels met ’n briljante individuele poging vorendag gekom het om die wedstryd se laaste drie te druk.

Die Bulls het weer rugby laat lekker lyk. Jake White sal nou net hoop dat sy span meer gereeld so sal speel.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Stedman Gans (2), Marco van Staden (2), Marco Jansen van Vuren en Embrose Papier. Doelskoppe: Morné Steyn (4). Strafskop: Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frans

Ek sou nie te opgewonde raak nie want dit bly maar eenvoudig so,dat wanneer jy ‘n paar sleutelspelers uit ‘n goeie span haal,die Sharks was ‘n goeie span voor ‘lockdown’ en verdiend die voorloper in ware Superrugby is dit dieselfde as ‘n kok wat besig is om dieselfde koek te bak en ‘n paar belangrike bestanddele vergeet. Die hele koek val plat ,is smakeloos en verdien om in die asblik gegooi te word.En dit is presies wat die Bulle gedoen het met die Sharks.Kan iemand my nou mooi verduidelik hoekom ewe skielik almal van Superrugby praat as dit net n… Lees meer »

Piet

Nulle wen hul eerste wedstryd nou is hulle weer Curriebeker kampioene.

Adam Adriaan

Rugby is hierdie landjie van ons sal nooit weer dieselfde wees nie.