Foto’s: Stormers, Bulls wen hul Superheld-tweestryde

Stormers vs Sharks. (Foto: GB Jordaan)

’n Mens moet weliswaar nie te veel lees in opwarmingswedstryde nie, maar as dit lekker is om te kyk en as ’n hele paar van jou rugbysuperhelde hul vaardighede uitstal – waarom kan jy dit dan nie geniet nie?

Die FNB-stadion in Soweto was vandag getooi in die kleure van Thor, Captain America, Spider-Man en Black Panther tydens die jaarlikse Superheld-Sondag waar die Suid-Afrikaanse spanne mekaar in opwarmingswedstryde die stryd aansê voordat die Superrugby-seisoen in alle erns begin.

In die eerste wedstryd van die dag het die Stormers die Sharks met 21-19 geklop.

Die Stormers se Springbok-buksieskrumskakel, Herschel Jantjies, het sy stem dik gemaak en twee opportunistiese drieë vir die Kapenaars gedruk.

Dan het die Durbaniete se Makazole Mapimpi ook gewys dat hy ’n driedrukmasjien is en met twee drieë van sy eie geantwoord.

Dit was uiteindelik die doelskop van Jean-Luc du Plessis wat die verskil tussen die twee spanne op die telbord was.

Bulls vs Lions. (Foto: GB Jordaan)

Puntemakers:

Stormers: Drieë: Herschel Jantjies (2), Golden Masimla. Doelskoppe: Damian Willemse (2) en Jean-Luc du Plessis.

Sharks: Drieë: Makazole Mapimpi (2) en Marius Louw. Doelskoppe: Curwin Bosch en Boeta Chamberlain.

  • Dan was die wedstryd tussen die Bulls en die Lions ’n aksiebelaaide affêre wat vir meer as genoeg drieë gesorg het. Die Pretorianers het die kragmeting met 40-35 gewen.

Die Bulls se buitesenter, Cornal Hendricks, het gewys dat superhelde ook soms eers skurke moet wees voordat hulle die situasie kan beredder.

Met minute se spel op die horlosie oor – en met die Lions 35-33 voor – het Hendricks die bal voor ’n oop doellyn verloor. Hy het egter minute later vir sy blaps vergoed om die wendrie vir die Pretorianers te druk.

Die Bulls se Springbok-heelagter, Warrick Gelant, is vroeg in die wedstryd per draagbaar van die veld gedra nadat sy kop hard met Elton Jantjies se bobene kennis gemaak het.

Stormers vs Sharks. (Foto: GB Jordaan)

Die Lions het egter goed gespeel en van hul ondersteuners sal waarskynlik heel tereg voel dat hul span eerder die wedstryd verloor het, as wat die Bulls hom gewen het.

Duncan Matthews het twee drieë vir die Johannesburgers gedruk, terwyl Dan Kriel gewys het dat hy op sy dag nie so ’n driedruk-gevaar soos sy broer, die Springbok Jesse, kan wees nie.

Puntemakers:

Lions: Drieë: Dan Kriel, Duncan Matthews (2), Courtnall Skosan en Morné van der Berg. Doelskoppe: Elton Jantjies (5).

Bulls: Drieë: Abongile Nonkontwana, Jonny Kotze, Manie Libbok, Divan Rossouw (2) en Cornal Hendricks. Doelskoppe: Morné Steyn (2) en Chris Smith (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Frans C ·

Die bes georganiseerde span was die Sharks en dit is net die spel van Jantjies wat hul geklop het.Die lions was hopeloos ongedissiplineer en kon nie aanpas by die skeidsregter se vertolking by die laagvat nie.

Dit het hul die wedstryd gekos. As die span nie drasties in die opsig verbeter nie wag daar ‘n groot pak slae op hulle in hul eerste wedstryd teen die Jaquares wat feitlik met enkele uitsonderings ,met hul wêreldbekerspan net onder ‘n ander naam aan die kompetisie deelneem.

Hulle moet vanjaar die gunsteling wees want feitlik al die ander spanne is in ‘n herboufase.

Josi ·

@Haan, hoekom nie? Ek se ons moet soos Monday Night Footbal, Sunday Rugby Fever he!

Kiepie ·

Ook nie op Saterdae nie terwille van die Sewende Dag Adventiste).

Derick ·

O wee, die Lions moet iets doen aan hulle dissipline. Hulle kan dankie se dat hulle nie meer gestraf is nie.

Steyn ·

Ek en my gesin was daar, en was baie lekkerder as ellispark en loftus! Genoeg GRATIS parkeer plek, Metro polisie wat verkeer beheer het, skoon stadion, gemaklike sitplekke ook! Al was kaartjies goedkoop bly dit maar n kommer dat toeskouers uitgebuit word om R50 vir n putty en bun te betaal, R20 vir botteltjie water en dan nogal R35 vir n bier wat R12 kos in bottelstoor!!! My paar sente gekos, maar ervaring en herinering die moeite werd!

Swartwolf ·

Sharks moes gewen het Am se drie moes toegelaat gewees het.

NET EK ·

Ek stem maar jy ken mos nou al die storie ….. dis skynsreger het altyd die laaste se (nooit in ons guns nie)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.