Foto’s: Tukkies eers Pukke se baas in die doodsnikke

Tukkies het vir die Pukke met 42 – 40 in ’n aksiebelaaide stryd getroef. Foto: GB Jordaan.

Gisteraand op die LC de Villiers-stadion in Pretoria het manne van die Noordwes-Universiteit waarskynlik gedink hulle het hul Varsitybeker-openingswedstryd teen Tukkies in die sakkie: Hul vleuel, Eugene Hare, het pas ’n drie gedruk om die telling 40 – 39 in die Potchefstromers se guns te beklink.

Die tuisspan se Theo Boshoff het egter ander planne gehad. Met die sirene wat reeds geloei het om die einde van die wedstryd aan te kondig, het hy komkommerkoel die wenstrafskop tussen die pale deur gejaag.

Sy skop het gesorg dat die Pretorianers met 42 – 40 gewen het.

In Stellenbosch het Maties vrolik en bly op dieselfde noot voortgegaan as waarop hulle verlede jaar geëindig het toe hulle die Shimlas met 67 – 16 in Stellenbosch afgeransel het.

Die verdedigende kampioenspan het teen rustyd reeds met 37 – 0 voorgeloop.

Dan het die Ikeys vir ietwat van ’n opskudding gesorg toe hulle die Universiteit van Johannesburg met 25 – 16 op hul tuisveld getroef het.

Die besoekers se losskakel, James Tedder, het die wedstryd vir die Ikeys soos ’n generaal bestuur en hy is welverdiend as die “Player that Rocks” aangewys.

Laastens het Wits die Universiteit van die Wes-Kaap ’n rugbyles geleer en met 38 – 10 in Bellville gewen.

Die gewilde Constant Beckerling het een van die besoekers se ses drieë gedruk.

  • Volgende Maandag se bepalings:

19:00: Wits teen UJ; Ikeys teen die Pukke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stefan ·

Liewe goeie genade, wat ‘n absolute patetiese skeidsregter. Dankie tog sy assisstente het dinge raakgesien wat reg voor die skeidregter gebeur het en deur hom gemis is. Vir my het die ou net so onfiks as ekself gelyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.