Franco nie meer Cheetahs se hoofafrigter nie

Franco Smith (Foto: prorugby12.com)

Vrystaat Rugby het Vrydag aangekondig dat sy hoofafrigter, Franco Smith, en die direkteur van rugby, Rory Duncan, se poste en rolle vanaf Maandag omgeruil word.

Smith word dan die nuwe direkteur van rugby, terwyl Duncan voortaan die hoofafrigter van die Cheetahs en die Vrystaat Cheetahs sal wees.

Geen rede anders as dat dit Smith in staat sal stel om sy betrokkenheid by die Springbokke voort te sit word vir die skuif gegee nie.

Die omruiling is egter moontlik omdat Smith, as hoofafrigter van die Cheetahs, steeds voltyds by hulle betrokke sou wees wanneer hulle na verwagting oor sewe weke by die Pro12 van die Keltiese lande en Italië betrokke raak.

Hy sou dan weinig aandag aan die Springbokke kon gee met 10 wedstryde in hierdie reeks wat oorsee gespeel word.

Sou die Cheetahs nie vanjaar in die Pro12 speel nie, is daar geen rede om ʼn Cheetahs-afrigter aan te stel totdat hulle aanstaande jaar in September daar inval nie.

♦  Smith is nou as nuwe hoof van die Vrystaatse rugbydepartement verantwoordelik vir die afrigting en ontwikkeling van junior afrigters en spelers in die unie, en sal in Suid-Afrika gesetel wees.

Duncan was verlede jaar die Curriebeker-afrigter, terwyl Smith se broer, MJ, die afrigter was van die span wat die Blou Bulle in die eindstryd geklop het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.