Frankryk? Dis dan Suid-Afrikaners waar jy kyk!

ʼn Mens kan kwalik glo dis ʼn wedstryd in die Franse Top14-liga, dié tussen Montpellier en Racing 92, as jy na al die Suid-Afrikaanse puntemakers kyk.

Eersgenoemde het die kragmeting op sy tuisveld met 41-3 oorheers.

Die Springbok Ruan Pienaar (skrumskakel) het 14 van die wenspan se punte met vier doelskoppe en twee strafdoele behaal.

Nóg ʼn Bok, Jan Serfontein (binnesenter), het twee drieë gedruk, en ʼn gewese SA o.20- en Bulls-speler, Nico Janse van Rensburg (slot), het insgelyks die doellyn oorgesteek.

ʼn Derde Bok, Pat Lambie (heelagter), het Racing se enigste punte met ʼn strafdoel behaal.

Op die koop toe het die Bok Jannie du Plessis, die vaskopstut van Montpellier, hom ʼn geelkaart op die hals gehaal.

♦ ʼn Soveelste Bok, Morné Steyn (losskakel), het hom knap van sy taak gekwyt deur 13 van Stade Français se punte in sy sege van 23-17 oor Castres op die telbord te plaas.

Hy het met twee doelskoppe, twee strafdoele en ʼn skepdoel geslaag.

Die Franse toetsspeler Rory Kockott (skrumskakel) het een van Castres se twee drieë gedruk.

Hy het Superrugby vir die Sharks en die Lions gespeel.

♦ Die gewese Bulls-speler Tian Schoeman (plaasvervanger-losskakel) het ʼn doelskop vir Bordeaux Bègles in sy nederlaag van 20-26 teen Oyonnax behaal; en die Bok Flip van der Merwe (slot) is met ʼn geelkaart gestraf in sy span, Clermont, se sege van 11-9 oor Brive.

Franse Pro D2-liga

♦ In die Franse Pro D2-liga het Danré Gerber, ʼn gewese Bolandse Curriebekersenter en seun van die Bok Danie Gerber, ʼn doelskop en ʼn strafdoel vir Mont de Marsan teen Vannes behaal.

Laasgenoemde het die kragmeting met 36-13 gewen.

Engelse Kampioenskap

♦ Die Suid-Afrikaans gebore Luke Daniels (heelagter) het seker gemaak dat Ealing Trailfinders vir Rotherham Titans in die Engelse Kampioenskap met 37-35 klop toe hy in die 79ste minuut met ʼn strafdoel geslaag het.

Daniels het 17 punte met vier doelskoppe en drie strafdoele vir sy span behaal.

Italiaanse Super 10-liga

♦ Kayle van Zyl (heelagter), ʼn gewese OP-Kings-Curriebekerspeler, het ʼn tweekuns vir San Dona in sy sege van 34-23 oor Mogliano in die Italiaanse Super 10-reeks behaal.

♦ Joe van Niekerk (binnesenter), wat in Bloemfontein gebore is en al vir Opkomende Italië gespeel het, en die gewese Pumas-speler Jacques Momberg (haker) het elk ʼn drie vir Rovigo gedruk in sy wegholsege van 56-12 oor Lazio.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.