Frans Ludeke lok Lappies (en wie nog?) na Japan

Frans Ludeke (Foto: fijisun.com.fj)

Frans Ludeke (Foto: fijisun.com.fj)

Dit strook nie met Frans Ludeke se geaardheid om wraakgierig te wees nie, maar niemand sal hom kwalik neem as hy Suid-Afrika se rugbyspens verder leeg stroop nie.

Ludeke is een van daardie afrigters wat deur die meule is, wat die soet en suur van rugby ken. Hy is verskeie kere al afgedank, maar het ook ongekende sukses geproe, soos twee Superrugby-titels by die Bulls in 2009 en 2010.

Ludeke is heel onlangs by die Kubota Spears in Japan aangestel en het geen gras onder sy voete laat groei nie.

Donderdag se aankondiging dat die Blou Bulle se uithalerflank Lappies Labuschage, ná die Superreeks op pad na Ludeke se Spears is, is sekerlik nie die laaste nie.

Labuschagne, wat die Blou Bulle in verlede jaar se Curriebeker-reeks aangevoer het, het `n kontrak onderteken om net in Japan te speel  –  en nie vir enige Suid-Afrikaanse span  in die Superrugby-reeks nie, net soos Heinrich Brűssow.

Ludeke het die leisels by die oud-Wallaby Totai Kefu geneem. Hy het reeds die Springbokke se gewese verdedigings- en aanvalsafrigter John McFarland na die Spears gelok om sy afrigtingspan te versterk.

McFarland was jare lank een van Ludeke (en Heyneke Meyer) se regterhande by die Bulls voordat hy Meyer by die Springbokke bygestaan het.

Maar McFarland se kontrak is nie hernu nie en hy moes ook groener weivelde gaan soek.

Ek is seker dat die Spears, met aanwinste soos Labuschage en ander SA spelers  soos Keegan Daniel, Grant Hattingh en Lionel Mapoe, `n sterk aanslag van stapel sal laat loop. Ludeke kan ook op die knoppie van die oud-All Black Isaia Toeva druk asook die gewese league-ster Matt Saunders.

Die klub, wat in 1978 gestig is, het vanjaar 12de geëindig in die Japanse reeks nadat hy met 45-38 deur Honda Heat in die uitspeelwedstryde geklop is. Die Spears het eers in 1990 bevordering tot die Japanse senior liga gekry. Nadat die Spears `n paar seisoene in die Topliga gespeel het, is hulle in 2011 weer afgeskuif – en weer in 2012 bevorder.

Ludeke, wat verlede jaar Fidji se voorspelers by die Wêrelbekertoernooi suksesvol gebrei het, is een van die suksesvolste afrigters in Superrugby.

Hy was in 149 wedstryde in beheer, 125 keer as Bulls-afrigter en 24 keer vir die Cats. Hy was ook al die Bokke se hulparigter onder Harry Viljoen, en het eweneens al draaie in Engeland gemaak.

Nou staan hy voor `n nuwe uitdaging, ene waarmee hy hy net sukses sal behaal deur nog `n paar Suid-Afrikaanse spelers te lok.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.