Franse blaser Raynal pak fluitjie weg

Mathieu Raynal het Dinsdag se uittrede as skeidsregter aangekondig. (Foto: X)

Die Franse blaser Mathieu Raynal (42) het Dinsdag sy uittrede as skeidsregter ná ʼn merkwaardige loopbaan aangekondig.

Sy 49 toetse is die vierde meeste deur ʼn Franse blaser. Romain Poite het in 73 wedstryde die fluitjie geblaas, Jérôme Garcès in 55 en Pascal Gaüzère in 52 wedstryde.

Raynal sal vir sy 50ste toets tydens die internasionale seisoen blaas. Hy is die 13de Wêreldrugby-skeidsregter wat hierdie mylpaal bereik en die tweede vanjaar ná Engeland se Luke Pearce.

Hy het in 2009 sy toetsdebuut in ʼn wedstryd tussen Malta en Nederland gemaak.

Raynal was in drie Wêreldbekers betrokke waar hy in vyf wedstryde tydens die mees onlangse toernooi in Frankryk aan stuur van sake was. Dit het die kwarteindstryd tussen Engeland en Fidji ingesluit. In 2015 het hy die rol as assistent-skeidsregter vervul.

Dié boorling van Perpignan het verder die uitsonderlike voorreg gehad om in agt Sesnasies-kragmetings, vyf Verenigde Rugbykampioenskap-toernooie en die eindstryd van die Britse en Ierse Leeus in 2021 betrokke te wees.

Hy het beheer van twee Europese Kampioenebekers in onderskeidelik 2016 en 2021 geneem.

Raynal het 18 jaar as beroepskeidsregter geblaas en het 350 wedstryde agter sy naam.

“Dit was ʼn voorreg en ʼn eer om oor die jare op die hoogste vlak as skeidsregter op te tree.  Daar is onvergeetlike oomblikke wêreldwyd wat ek sal koester.”

Hy sê hy sal ook die goeie tye met vreugde onthou.

“Hoewel ek my in moeilike omstandighede bevind het, sou ek nie ander beslissings gemaak het nie.”

Raynal het die spelers, afrigters en skeidsregters wat tot die sukses van sy loopbaan bygedra het, bedank.

“My familie en vriende het ook ʼn groot aandeel in my sukses gehad.”

Sir Bill Beaumont, voorsitter van Wêreldrugby, het ook hulde aan Raynal gebring.

“Mathieu is ʼn fantastiese skeidsregter en behoort ongelooflik trots te wees. Ons is beslis trots.

“Dit verg ʼn spesiale soort mens om as ʼn internasionale wedstrydbeampte te floreer en hy het hom uitstekend van sy taak gekwyt. Hy is ʼn groot rolmodel vir skeidsregters en sal as een van die heel bestes onthou word.”

Beaumont sê Raynal het ʼn rol in die bevordering van skeidsregters op die wêreldverhoog vervul.

“Ons is saam met Mathieu opgewonde oor die volgende hoofstuk in sy lewe.”

Joël Jutge, bestuurder van Wêreldrugby Elite-mans 15s, het Raynal vir sy ontwikkeling van internasionale skeidsregters bedank.

“Hy het nog altyd op ʼn hoë tegniese vlak presteer, maar hy was ook ʼn uitstekende spanmaat vir beamptes en het al die kennis wat hy oor meer as ʼn dekade opgedoen het, gedeel om onervare beamptes met hul vordering op die wêreldtoneel te help.

“Wêreldrugby het sy sterk karakter, oortuigings en leierskap raakgesien. Hy het ʼn groot deel van die familie help vorm. Ons wens hom alle sterkte toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Casper ·

JN en Fran,hy was ‘n uitstekende skeidsregteren het respek op en af die veld verdien en nie gekoop nie.My seun was self skeidsregter en toe ek eendag langs die veld vir iemand wat hom lelik gevloek het vra wat is die kleur van ‘n reëlboekie kon hy my nie antwoord nieAs jy nie weet wat is die kleur van ‘n reëlboekie nie dan weet jy nie wat binne staan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.