Franse flair, Skotse passie by Sesnasies

Skotland het die Engelse die eerste keer in 38 jaar en slegs die vyfde keer ooit op Twickenham bloedneus gegee. (Foto: Scottish Rugby)

Dit bly darem pure rugbyplesier wanneer die Franse die dag op loop gaan.

Boonop word die kersie op die koek geplaas wanneer Skotland die Engelse die eerste keer in 38 jaar en slegs die vyfde keer ooit op Twickenham bloedneus gee.

Vanjaar se Senasiesreeks het Saterdag op ʼn baie hoë noot begin toe die Franse ʼn oorwinning van 50-10 oor Italië in Rome behaal het en die Skotte die Engelse met 11-6 op ʼn sopnat Twickenham geklop het.

Vergeet ʼn wyle van twee stadions sonder toeskouers, vergeet van goor toestande: Wanneer spanne wíl rugby speel, is daar geurige, sagte skaapboud en gebakte aartappels op die Sondagtafel.

Wanneer die volgende Wêreldbekertoernooi in 2023 in Frankryk plaasvind, gaan die yster reeds gesmee wees, want dié Hane is vol flair, hul algehele en speldissipline raak al hoe beter.

Die Franse speel onder die afrigter Fabian Galthie avontuurlike rugby; hulle vinnige, vaardige agterspelers wil drieë druk en die Franse het ʼn pak wat geen duit terugstaan nie.

Die slotte, die twee Boere-Hane Paul Willemse en Bernard le Roux, verskaf die vonk vir die drie losvoorspelers, Gregory Aldritt, Charles Ollivon en Dylan Cretin, om te baljaar.

Agter die wenpak trek die skrumskakel Antoine Dupont al die toutjies en dit was geen verrassing nie dat hy as speler van die wedstryd aangewys is.

En Italië?

Hulle is oordonder, maar tog bou die afrigter, Franco Smith, stelselmatig ʼn span om rugby in Italië sterker te maak, om te sorg dat daar diepte gebou word. Gaan kyk maar gerus hoeveel beter Benetton en Zebre in die Pro14-reeks vaar.

* Punte:

Italië 10 (3): Drie: Luca Sperandio. Doelskop: Paolo Garbisi. Strafdoel: Garbisi.

Frankryk 50 (24): Drieë: Teddy Thomas (2), Brice Dulin, Dylan Cretin, Gael Fickou, Arthur Vincent, Antoine Dupont. Doelskoppe: Matthieu Jalibert (6). Strafdoel: Jalibert.

Op Twickenham het die passievolle Skotte die verlepte Engelse ore aangesit.

Die groot sterre was die heelagter Stuart Hogg, die makro-vleuel Duhan van der Merwe (wat met sy kragspel die enigste drie gedruk het), die nuweling-senter Cameron Redpath (wie se pa, Bryan, 50 keer vir die Skotte skrumskakel gespeel het), die slot Richie Gary en die woelwater-flank Hamish Watson.

Met dié vertoning het Van der Merwe straks reeds genoeg gedoen om later vanjaar (as die toer plaasvind) in die Britse en Ierse-Leeus-toerspan na Suid-Afrika, Europa, Dubai of Katar, of moontlik Australië te wees.

Die Engelse, wat erg deur beserings verswak is, is ʼn les geleer en die ware kleure van die beteuterde afrigter, Eddie Jones, sal nou gewys moet word.

Wat ons wys geword het, is dat Owen Farrell straks nie die Leeus sal aanvoer nie. Die aandele van Maro Itoje en Billy Vunipola het ook gedaal.

* Punte:

Engeland 6 (6): Strafdoele: Owen Farrell (2).

Skotland 11 (8): Drie: Duhan van der Merwe. Strafdoele: Finn Russell (2).

* Ierland speel Sondagmiddag in Dublin teen Wallis om die Sesnasies-naweek af te rond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MakersMark ·

“Scotland the brave”…..het die engelse ordentlik voor aangevat en hul verdediging was uitstekend.

Snowball ·

Wat ons wys geword het is dat Owen Farrel maar beteuterd en besnotterd gelyk het na die wedstryd. Bwhahaha. Lekker Skotland…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.