Franse kies hul swaargewigte teen Bokke

Die Franse afrigter, Jacques Brunel, het sy grofgeskut uitgehaal om die Springbokke Saterdag in Parys trompop te loop.

Die makro-agtsteman Louis Picamoles (1,92 m en 116 kg) sal saam met die twee hemelbesem-slotte Sébastien Vahaamahina (2,02 m en 126 kg) en Yoann Maestri (2.02 m en 119 kg) en die flank Arthur Iturria (1,98 m en 107 kg) die grondslag moet lê.

Die Suid-Afrikaner Bernard le Roux is weens ʼn gesigbesering drie weke gelede nie oorweeg nie.

Die twee stutte, Jefferson Poirot (123 kg) en Cedate Gomes Sa (113 kg) is ook geen liggewigte nie, terwyl die woelige haker Guilhem Guirado ook daarvan hou as dinge warm begin raak.

Picamoles, wat vir Montpellier speel, was laas in November teen Japan in die Franse opdrafspan. Op sy beste is hy ʼn sekere keuse met stormramlopies, maar beserings eis gereeld hul tol.

Die span toon, tipies Frans, 13 veranderings aan die span wat in Junie in die derde toetswedstryd met 49-14 deur die All Blacks geklop is.

Net twee spelers, Teddy Thomas (vleuel) en Maestri het hul plekke behou.

Waar Brunel voorlangs lang, groot en swaar voorspelers gekies het, het hy agterlangs ʼn hele paar vlugvoetige towenaars, soos die twee vleuels Thomas en Damian Penaud en die losskakel Camille Lopez, gekies.

Penaud, die seun van die gewese Franse losskakel Alain Penaud, wat in 1993 en weer in 1995 die Bokke baie hoofpyn gegee het, het in sy vorige ses toetswedstryde almal senter gespeel, terwyl Lopez vir 18 maande lank gesukkel het om beserings af te skud.

Die Franse span ‒
15 Maxime Médard, 14 Teddy Thomas, 13 Mathieu Bastareaud, 12 Geoffrey Doumayrou, 11 Damian Penaud, 10 Camille Lopez, 9 Baptiste Serin, 8 Louis Picamoles, 7 Arthur Iturria, 6 Wenceslas Lauret, 5 Yoann Maestri, 4 Sébastien Vahaamahina, 3 Cedate Gomes Sa, 2 Guilhem Guirado (kaptein), 1 Jefferson Poirot. Bank: 16 Camille Chat, 17 Dany Priso, 18 Rabah Slimani, 19 Paul Gabrillagues, 20 Mathieu Babillot, 21 Antoine Dupont, 22 Anthony Belleau, 23 Gael Fickou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

What a joke,! ·

Ek dink on nou die dieselfde ding…die moet n ma se ou wees!!

Wim van der Berg ·

Dankie, Wessie, vir die uitwys van die vingerfout. Dit moet 119 kg wees en die fout is reeds reggemaak.
Groetnis
Wim van der Berg
Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.