Franse klop Argentinië in taai toets

Tomas Cubelli, Argentinië se skrumskakel, takel vir Gabin Villiere, Frankryk se vleuel Gabin Villiere (Foto: Franck Fife / AFP)

Die Franse Hane het die Argentyne 29 – 20 in Parys geklop, maar die tuisspan is behoorlik getoets voor 55 000 toeskouers in die Stade de France.

Argentinië het agt veranderings gemaak aan hulle span wat 17 – 32 teen Australië verloor het in hulle laaste wedstryd in die Rugbykampioenskap en daar was ook ʼn paar debutante in die Franse span.

Een van hulle was die slot Thibaud Flament. Die 24-jarige Flament het vyf jaar gelede losskakel vir die vyfde span van die Loughborough-universiteit in Engeland gespeel. Nie net speel hy nou internasionale rugby op slot nie, hy het ook ʼn drie gedruk in sy eerste wedstryd vir die Hane.

Die Franse het die vroeë skermutselings in die wedstryd oorheers en rustyd 9 – 7 voorgeloop. Die besoekers se skrumskakel, Tomas Cubelli, het die enigste drie van die helfte gedruk.

ʼn Drie van Franse haker Peato Mauvaka en Flament in die tweede helfte en uitstekende skopwerk pale toe van Melvyn Jaminet het die deurslag gegee oor die taai Argentyne. Die Suid-Afrikaner Vlok Cilliers is die Franse se skopafrigter.

Argentinië het in die laaste tien minute verbete teruggeveg om die gaping op die telbord kleiner te maak en Mateo Carreras het ʼn drie gaan druk. Jaminet het egter laaste gelag en sy vyfde strafskop deur die pale gestuur.

Puntemakers:

Frankryk 29 (9)

Drieë: Peato Mauvaka, Thibaud Flament

Doelskoppe: Melvyn Jaminet (2)

Strafskoppe: Jaminet (5)

Argentinië 20 (7)

Drieë: Tomas Cubelli, Mateo Carreras

Doelskoppe: Nicolas Sanchez, Emiliano Boffelli

Strafskoppe: Emiliano Boffelli (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Was ‘n goeie wedstryd. Bokke sal albei klop. Het reeds Arg twee keer geklop die jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.