Franse se 14 spelers laat All Blacks bontstaan

Seker nie volpunte nie, maar heelwat krediet moet aan die Franse gaan wat Saterdag in Wellington die tweede toets met 13-26 teen die All Blacks verloor het.

Dit klink miskien na ʼn onverstaanbare stelling, maar ʼn mens moet onthou die Franse het met die uitsondering van die eerste 11 minute met net 14 man teen die wêreld se beste span gespeel.

Anders as verlede week, toe hulle heeltemal ineengestort het nadat hulle rustyd nog met 11-8 voor was en voordat ʼn sinnelose geel kaart ná 51 minute se spel hul lot was, het die Franse ingeklim, gekeer waar hulle kon en self sodanig met die bal gehardloop dat die All Blacks 30 mislukte duikslae op hul telkaart het.

Dít sal Steven Hansen-hulle gewis laat dink.

Die Franse het gebiedsvoordeel geniet en selfs wat besit betref, die All Blacks laat bontstaan.

Die Franse agterlyn het in die eerste agt minute twee keer deurgesny, een amperse drie gedruk en ʼn mens het uitgesien na  ʼn goeie kragmeting. Daar was later nog ʼn “drie” wat nie toegelaat is nie, en met die laaste beweging van die wedstryd het die Franse van diep in hul eie gebied weer met goeie hanteerwerk en oordeel gaan druk.

Die rooikaart was volgens die reëls heeltemal geregverdig en die skeidsregter het geen ander opsie gehad nie.

Beauden Barrett, wat hoog gespring het om ʼn Franse skop te probeer vang, het op sy nek geval nadat die Franse se heelagter Benjamin Fall geensins probeer het lm die bal te vang nie.

Daar was geen moedswil van Fall se kant af nie. Hy het nie onder Barrett probeer deurloop nie, maar genoeg kontak gemaak en Barrett het op sy nek te lande gekom en moes die veld verlaat.

Die All Blacks se plaasvervanger-skrumskakel PJ Perenara is in die laaste kwart ook met ʼn geel kaart kantlyn toe gestuur.

Puntemakers ‒
Nieu-Seeland (21) 26
: Drieë: Joe Moody, Ben Smith, Jordie Barrett (2). Doelskoppe: Damian McKenzie (3).
Frankryk (6) 13: Drie: Cedate Gomes Sa. Doelskop: Jules Plisson Strafdoele: Morgan Parra (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Joe Hall ·

Agge nee wat Wim van der Berg
Die talle kykweer’s het duidelik bewys dat die Fransman vir die bal gekyk het, terwyl hy soos Barrett, vir die bal gespring het. Dat die AB’s se ‘spesiale seun’ op sy nek te lande gekom het, was vir seker nie aan moedswillige spel te wyte nie. Hoogstens ‘n geel kaart…

Joe Hall ·

Dat die rooikaart onsinnig en ‘n simpele oorreaksie van die skytsregter was, word nou bevestig deur die kansellering van die rooikaart, dae na die gebeurtenis.
Intussen moes die Franse en alle rugby kykers se genot bederf word deur ‘n siel wat met eenoog, ‘n fluitjie en ‘n sak vol kaarte die geleentheid bederf het.
Wim van den Berg sal seker weer hierdie poging met ‘n rooikaart hanteer…
:-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.