Franse speel soos kampioene

Frankryk se Damian Penaud veg vir die bal teen Ierland se Andrew Conway gedurende die Sesnasies (Foto: FRANCK FIFE / AFP)

Frankryk se rugbyspan marsjeer onoorwonne voort in die Sesnasies ná ʼn uitstekende 30-24 oorwinning in Parys teen Ierland.

Die span se gemiddelde ouderdom is 25 jaar en ses maande met die agterlyn wat gemiddeld net 24 jaar oud is. Daar word baie van hierdie span verwag wanneer die Wêreldbeker volgende jaar in Parys begin.

Dit was veral die wyse waarop die jong span in die tweede helfte vasgebyt het wat beïndruk het. Daardie jare van ʼn wispelturige Franse span waar die wiele enige tyd kan afval, is beslis verby. Die Franse was reeds met 10-0 voor binne drie minute nadat die wedstryd afgeskop het. Kaptein Antoine Dupont het oorgeduik en heelagter Melvyn Jaminet het die drie verdoel en boonop ʼn strafskop daarna oorgeklits.

Swak dissipline van die Iere het die strafskoppe laat opstapel en Dupont se span het vroeg in die tweede helfte met 22-7 voorgeloop.

Die taai Iere het teruggeveg met flank Josh van der Flier wat na ʼn lynstaan oorgeduik het en toe het skrumskakel Jamison Gibson-Park soos ʼn mes deur botter deur die verdediging langs die skrum gesny en ook gaan druk. Joey Carbery het albei verdoel en die telling was 22-21 vir die Franse.

Frankryk se Melvyn Jaminet word geduik deur Ierland se Dan Sheehan tydens die Sesnasies-rugbytoernooi (Foto: FRANCK FIFE / AFP)

Albei spanne het gevaarlik gelyk met die bal in hand en die wedstryd het wipplank gery.

Die Franse het hul spelpeil weer gelig en stut Cyrille Baille het oorgeduik. Jaminet het die belangrike doelskop verbrou en die telling was 27-21. Carbery was suksesvol met nog ʼn strafskop om die telling 27-24 te maak, met sewe minute speeltyd oor.

Die Franse was weer op die aanval in die besoekers se kwartgebied en met nog ʼn maklike strafskop het Jaminet die telling 30-24 gemaak.

Die Franse loop nou voor op die punteleer en is drie punte voor Ierland ná twee wedstryde.

In Saterdag se ander wedstryd het Wallis ná hulle nederlaag teen Ierland verlede week uit die stof opgestaan en vir Skotland met 20-17 geklop.

Wallis se kaptein Dan Biggar het vier strafskoppe oorgeskop en was suksesvol met ʼn skepdoel tien minute voor die eindfluitjie om die wedstryd in sy span se guns te swaai. Hy het in die tweede helfte boonop met ʼn kniebesering gespeel.

Hy kon nie vir ʼn beter viering van sy 100ste toets gevra het nie en het dit as sy beste oorwinning ooit in ʼn Walliese trui bestempel.

Die rustydtelling was 14-14 ná drieë deur Wallis se stut Tomas Francis en Skotland se vleuel Darcy Graham.

Die Skotse ster Finn Russell is laat in die wedstryd met ʼn geel kaart gestraf omdat hy die bal opsetlik aangeslaan het. In daardie stadium was die besoekers met 17-14 voor.

Vanmiddag 17:00 speel Engeland teen Italië in Rome.

Die spelers kry dan ʼn blaaskans voor opwindende wedstryde op 26 Februarie. Skotland pak die Franse in Edinburgh en Engeland speel teen Wallis op Twickenham in Londen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.