Franse swig ná goeie eerste helfte teen All Blacks

Dit lyk na ʼn slagting en dit wás een, danksy ʼn skitterende tweede helfte. Maar vir die eerste 45 minute was die All Blacks onder kwaai druk en Frankryk baie indrukwekkend.

Dit was twee spanne wat met skitterende hanteerwerk onder druk deurgaans probeer hardloop het end dit baie goed gedoen het. Maar die skale 21-14-rustydvoorsprong van die All Blacks het in die tweede helfte dramaties in ʼn wegholoorwinning van 49-14 verander ná hul sewe drieë teen twee gedruk het.

Daar was weer ʼn uiters ongelukkige dog ʼn korrekte beslissing wat die Franse, soos in die eerste twee toetse, duur gekos het. Dit was toe die All Blacks hul neuse in die eerste helfte voorgekry het.

Damian McKenzie het die eerste van sy twee drieë daarvandaan gaan druk met ʼn gaping nog groter as wat die Bokke in die eerste twee toetse aan die Engelse op die vleuels gelaat het. Die skeidsregter, John Lacey, was by die skrum in die pad van die Franse se skrumskakel Baptiste Serin wat nie kon keer nie en McKenzie het ʼn oop pad doellyn toe gehad.

Die eerste halfuur het aan die Franse behoort. Hulle het heeltemal oorheers en het, ongeag die eindtelling, in daardie tydgewys hoe goed hulle kan wees. Onder die nuwe Franse afrigter Jacques Brunel gaan hulle oor ʼn jaar ʼn gedugte span wees.

Die All Blacks het, toe hulle kort ná rustyd begin voorvoetbesit kry, gewys wat ondersteuning is en hoe daar van die bal af gehardloop moet word. Elf veranderinge, ja, maar daar is diepte, vaardigheid en ʼn die verstandhouding tussen die ou en nuwe spelers wat eie aan die All Blacks is.

Die Franse het egter ná rustyd nie hul plig op die verdediging gedoen nie. In daardie opsig wag daar nog harde werk.

Nietemin is die All Blacks se rugby steeds die gehalte waarna enige span moet mik, en die Franse is, ondanks die telling, hard aan die werk om daar uit te kom. Soos Suid-Afrika en Ierland en die Wallabies.

Maar hulle is steeds ver agter.

Rieko Ioane het drie drieë na mekaar gedruk, twee van hulle darem té maklik; Sonny Bill William was uitstekend met sy terugkeer na sy besering en sonder enige wedstrydoefening; Scott Barrett het op slot, toe dit aan die begin nog werklik saak gemaak het, die een duikslag ná die ander uitgevoer om die Franse van die doellyn weg te hou; en McKenzie was in die hardloopwedstryd baie goed.

Aan Franse kant kan ʼn mens sê dat hulle met ʼn vernuwing in hulle spel beïndruk het. Hulle was net nie goed genoeg nie en kan in ʼn groot mate hulle swak lynstaanspel en latere lakse verdediging daarvoor verkwalik.

Maar kyk maar, hulle gaan by die Wêreldbeker, soos in 2011, ʼn faktor wees …

Puntemakers ‒

Nieu-Seeland (21) 49: Drieë: Ben Smith, Matt Todd, Damian McKenzie (2), Rieko Ioane (3). Doelskoppe: McKenzie (7).
Frankryk 14 (14): Drieë: Baptiste Serin, Wesley Fofana. Doelskoppe: Anthony Belleau (2)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

rollie ·

11 veranderings en hulle klop steeds die opposisie vêr. Kwaliteit in diepte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.