Franse waarsku Bokke met klipharde sege oor Skotland

franse-logo-ffr
Nie altyd aanskoulik nie, maar deurgaans klip, kliphard en interessant. En met nog drie wedstryde in die Sesnasiesreeks om te slyp en drie maande se groepoefeninge, gaan Frankryk die Springbokke al hul dae in Junie se drie toetse gee.

Die Franse was indrukwekkend. Frankryk het tuis vir Skotland 22-16 geklop en het hier en daar gewys dat hulle kán hardloop. Daar moet ook nie vergeet word dat Skotland verlede week die Iere deeglik pak gegee het nie. Hulle is geen hierjy-span nie.

Frankryk se voorspelers was hard, ongenaakbaar en effektief – en as span het hulle nie soos die Franse spanne van ouds net bloot wyd gespeel en gapings met aftrappe en verbysterende rigtingveranderings en aangeë bewerkstellig nie.

Nee, hulle het daarop gekonsentreer om die bal in die duikslag uit te gee, die gapings aan te val en goed te ondersteun.

Hulle effektiefste wapen was waarskynlik die snelle skoonmaak by die afbreekpunte sonder om Suid-Afrikaanse skrumskakels se drie skuins treetjies uit te stal.

Soos die Skotte het hulle baie van die afbreekballe gebruik om met hulle voorspelers veld te wen. Die dryfwerk was effektief omdat hulle voorspelers wyer gestaan het en verder van die kern-groep verdedigers was. Die vinnige skoonmaak verder van die vorige afbreekpunt het dan gereeld groot, sterk draers gehad om veld mee te wen.

Daar is baie wat die Franse nog sal wil en moet doen onder hulle nuwe afrigter Guy Noves, maar daar is reeds ʼn nuwe durf, beter dissipline in alle fasette, ʼn indrukwekkende skrum wat die Skotte deur strafskoppe dikwels op die agtervoet geplaas het, en ʼn skerpskut-skopper in Camille Lopez om werk van die maak.

Hierdie dinge sal, wie ook (eendag) hoor hy is die Bokafrigter, se volle aandag en beplanning verg.

♦  Die twee Suid-Afrikaners, Scott Spedding op heelagter vir die Franse en Josh Strauss wat die Skotte se vernaamste (en baie effektiewe) baldraer was, was van die uitblinkers in hul spanne; en Huw Jones, wat die Skotse keurders se aandag in die Stormerstrui getrek het, het op buitesenter ook groot indruk gemaak.

Die grootste uitblinker was egter die Franse se kaptein en agsteman, Louis Picamoles.

Skotland het twee drieë, deur Stuart Hogg en Tim Swinson, teenoor Frankryk se een deur Gaël Fickou gedruk. Lopez het met vyf strafdoele en ʼn doelskop geslaag. Skotland se ander punte is met twee strafdoele deur Finn  Russell aangeteken

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Maroela let asb. op na die laaste paragraaf, dit is foutief. Remi Lamerat se drie was nie toegestaan nie, slegs Gael Fickou het gedruk vir die Franse. En die hele paragraaf lees ook nie lekker nie.

Janie Monsieur ·

Dagsê Jaco,

Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.