Franse wys SA Rugby die pad met pos van afrigter

Jacques Brunel (Foto: Twitter @StandardKenya)

“Ons kon nie so aanhou en ons uiteindelik teen ʼn muur vasloop nie. Ons móés eenvoudig nuwe oplossings vind.”

Ai, as SA Rugby tog net hierdie houding van die Franse gehad het met die aankondiging van die Franse Rugby-federasie (FFR) se president, Bernard Laporte, dat die nasionale afrigter Guy Noves gepos is.

Suid-Afrika is onder Allister Coetzee self baie naby aan die “muur” waarna Laporte verwys het.

Dit moes gedoen word, sê Laporte, want ʼn Franse span wat nie wen nie, beteken ʼn federasie en ʼn sport wat aan’t uitsterf is.  Die voormalige afrigter van Italië, Jacques Brunel, wat die naweek vir oulaas vir Bordeaux as afrigter sal bystaan, is as die nuwe afrigter aangewys.

Hy het net ses weke om die Hane te slyp voordat die Sesnasiesreeks afskop.

Noves het die eerste Franse afrigter geword wat uit sy pos ontslaan is na sy power rekord van net sewe oorwinnings in sy 21 toetse en ʼn toerwedstryd. Dit is selfs swakker as Coetzee se onaanvaarbare 11 seges uit 25 toetse plus ʼn toerwedstryd (gelykop teen die Britse Baabaas verlede jaar).

Die FFR het boonop bekend gemaak dat vyf of ses afrigters van die Franse se Top14 Brunel voor toetse sal bystaan.

“Ons wil ʼn moniteringsgroep van afrigters vir toetswedstryde daarstel wat spelers sal help oproep. Ons kan dit nie meer bekostig dat die klubs en die Franse span afsonderlik moet voortbestaan nie.

“Daar sal tegniese vergaderings wees waar die vraag gevra word wat ons met Franse rugby doen: Hoe speel ons? Ons kan eenvoudig nie voortgaan met die stelsel waar ons aan die een kant die bestuur het en aan die ander kant die klubs met die spelers in die middel nie,” het Laporte ter regverdiging van die nuwe stelsel verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Niklaas ·

S A rugby volg net hul eie besluite en steur hul nie aan enige iets nie. Kyk net hoe verswak S A rugby met die kwotas , maar dit pla nie. Dalks sal die opdis van vrot vertonings plaaslik , die geldsake van die rugbyraad begin benadeel maar hul sal sekerlik nie afwyk van hierdie onregverdighede nie.

Neels de Jager ·

Die probleme waarmee SA Rugby opgesaal sit strek veel wyer en dieper as die afrigter en om SA rugby te vergelyk met Frankryk, of enige ander europese land, se rugby en stelsels, getuig bloot van ‘n gebrek aan insig en kennis van SA rugby.
SARU asook bepaalde elemente van huidige regeringsbeleid moet maar eerstens volle aanspreeklikheid aanvaar vir die geleidelike aftakeling van ‘n eens trotse wen rekord (Ja Brendan Venter, alles gaan wel oor wen soos die Franse jou nou ook sal beduie).
Die huidige hooafrigfer met sy afrigtingspan mag moontlik nie die beste kombinasies wees waaroor SA beskik nie maar voordat diepliggende bydraende hindernisse uit die weg geruim word, maak dit nie sin om aan te hou om hoofafrigter te pos nie.
Die onlangse geskiedenis en aantal afrigters wat vervang is sonder sukses behoort immers aan te dui dat die probleme elders lê.
Alle SA sport behoort toegelaat te word om sonder politieke inmenging te groei en te ontwikkel wat in rugby se geval onder andere sal meebring dat SARU vervang word met amptenare sonder politieke bagasie of affilliasies.
Tweedens behoort weggedoen te word met alle vorms van politiek vewante teikens en vereistes. Die nakoming of nie daarvan het tot datum geen waarde gevoeg of positiewe verskil gemaak om SA ‘n beter plek vir almal te maak nie, so weg daarmee.

Danie ·

Op die oomblik voel ek rugby kan maar uitsterf in Suid-Afrika. Dit het net ‘n politieke speelbal geword. Waarmee die ondersteuners hulle tyd mee gaan vul is hulle probleem.

Therese ·

Dis presies wat die politikuste wil hê. …Rugby moet uitsterf… dan kan sokker mos oorneem.

Koos1 ·

SA is nie naby die muur nie, ons het al drie keer daarteen vas gehardloop en terug gehop!

Veritas ·

Ek het ‘n familielid wat vir FFR werk. Gaan nou dadelik e-pos stuur en hom vra om die Franse te oortuig dat Alistair Coetzee net die regte ou vir hulle is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.