‘Fransman is wêreld se beste, punt’

Antoine Dupont vier Frankryk se All Blacks-sege. Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP.

Brian O’ Driscoll meen jy hoef nie verder te wonder wie met Wêreldrugby se speler van die jaar-toekenning sal wegstap nie.

Volgens die voormalige Ierse senter staan Frankryk se Antoine Dupont kop en skouers bo die res uit.

“Na my mening was daar nog nooit ’n duideliker wenner in dié kategorie nie. Antoine Dupont het vanjaar briljante rugby gespeel,” het O’ Driscoll getwiet.

Die 25-jarige Dupont was deel van die skitterende Franse span wat die afgelope naweek met die All Blacks in Parys klaargespeel het.

Die Kiwi’s se Sam Cane het juis in die aanloop tot die wedstryd gesê dat die skrumskakel een van die gevaarmanne in die Hane se span is.

“Volgens wat ek gesien het, maak hulle baie op Dupont staat om die nodige vonk te verskaf. Sy skrumskakeldiens is uitstekend, terwyl hy ook baie gevaarlik met die bal in die hand is. Sodoende skep hy baie ruimte vir ander spelers omdat al die verdedigers se aandag op hom gevestig is,” het die Nieu-Seelandse flank gesê.

Dupont is saam met Michael Hooper (Australië), Samu Kerevi (Australië) en Maro Itoje (Engeland) vir die toekenning benoem.

Dit is egter die eerste keer dat daar nie ’n Suid-Afrikaanse of Nieu-Seelandse speler onder die benoemdes tel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boksombende ·

Omtrent tyd dat NZ leer hulle kan en moet geklop word! “Vive la France”!

Martie Smartie ·

Eers klop Ierland hulle nou Frankryk. Ag nee wat All Blacks is nog erger as die BLM Springboks

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.