Gaan daar skokke in die Springbokspan wees?

Warrick Gelant – moet sy visum in orde kry. (Foto: GB Jordaan)

Daar sal noodgedwonge ʼn hele paar nuwelinge in die Springboktoerspan ingesluit moet word vir die komende Europese toer, maar so ook dié van hul teenstanders, Ierland, Frankyk, Italië en Wallis.

Aan Springbok-kant is daar onder meer gesoek na (en reeds gevind) ʼn tweede heelagter om Andries Coetzee by te staan, vaardige vleuels en senters om die spens aan te vul, dalk ʼn derde losskakel, ʼn vaskopstut en ʼn agtsteman.

Heelagter: Die Blou Bulle se vlugvoetige heelagter Warrick Gelant is reeds aangesê om sy visum in orde te kry. Dus hoef daar nie verder na Coetzee se toermaat gesoek te word nie. Dillyn Leyds sal as veelsydige heelagter/vleuel ingesluit word om dié moontlike hoofbrekens so vinnig moontlik uit die weg te ruim.

Vleuels: Raymond Rhule het in onguns verval (hoe lank het dit nie geneem nie) en dus staan Sbu Nkosi, Kobus van Wyk en Makazole Mapimpi voor in die ry om hulle by Courtnall Skosan en dalk nog Travis Ismaiel aan te sluit. Nkosi is beseer (ontwrigte elmboog) en kan die toer misloop, wat die deur vir Van Wyk en Mapimpi ooplaat. Maar, moenie verbaas wees as die keurders skok en Rhule tog saamneem nie.

Senters: Jan Serfontein, Jesse Kriel en Damian de Allende (ai, ai, ai) is sekere keuses. Francois Venter en Rohan van Rensburg staan ook in die ry en behoort albei op toer gestuur te word.

Losskakel: Elton Jantjies, wat in Japan speel, sal dalk die toets teen Wallis misloop omdat dit buite die toetsvenster val. Handré Pollard kan die eerstekeuse-losskakel op toer word, maar wie sal nommer drie wees, met Pat Lambie en Francois Steyn wat ook oorsee speel en straks nie teen Wallis mag speel nie?

Vaskopstut: Coenie Oosthuizen sal ná sy besering terugkeer, en Wilco Louw is in die binnebaan om bo Ruan Dreyer gekies te word. Dan is Trevor Nyakane ook nog daar, maar wil jy oorlog toe met hom gaan?

Agtsteman: Met Warren Whiteley en Duanne Vermeulen steeds beseer, sal Francois Louw weer die nommer 8-trui dra? Gaan Daniël du Preez sy kans kry en wat van Kwagga Smith? Maar as jy ʼn Bok-keurder van die Kaap is, sal jy Nizaam Carr en Sikhumbuzo Notshe voorstel. Daar is ook gerugte dat Schalk Burger uit die wildernis gehaal sal word om dié kraak toe te messel.

Teenstanders

♦ Die Iere is reeds sonder die senter Garry Ringrose (skouerbesering) en die veelsydige agterspeler Jared Payne, wat al ʼn paar maande met hoofpyne sukkel.

Die Franse is sonder die senter Wesley Fofana (achillespees), losskakel Camille Lopez (gebreekte been) en die woelige flank Yacoube Camara (enkel).

Wallis sal die Bokke sonder Sam Warburton (nek) en George North (knie) pak. Dan sukkel Ross Moriarty (hoofpyne), Rhys Webb (knie), Dan Lydiate (rugspasma) en Justin Tupiric (bobeen) ook met beserings.

Maar die groot vraag is wie die Bokke gaan kies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Venetia ·

Ek verstaan nog nie hoekom word Lionel Cronje van die Kings as Losskakel heeltemal geignoreer nie?

wollie ·

Hy speel oorsee en voldoen nie aan die keuringsvereistes nie (slegs oorsese Bokke wat reeds ‘n sekere aantal toetse gespeel het, mag oorweeg word).

Phillip ·

Ek verstaan nie hoe Coetzee nie kan sien dat de Allende nie daar hoort nie. Hy het ons die toets teen die AB’s gekos en is nie opgewasse om op toetsvlak te speel nie.

Cjan ·

Phillip, Albaster het nou die kans om soveel as moontlik WP spelers in die Albastergroep te kry. Ellendig kan hoe sleg speel kies sal hy gekies word. Kwagga sal nie sommer gekies word nie. Sal sê hy is te lig. Combrick sal ook nie weer vir die Albasters speel nie. Twyfel of hy vir Bosch sal kans gee.

Henk ·

Dalk, net dalk, moet SA Rugby en Coetzee hulle trots in hul gatsakke steek en hulle foute erken. Kies dan vir Ruan Combrink, Marnitz Boshoff, Vincent Koch, die senters Am en van Rensburg, en ons het ‘n baie meer gebalanseerde en afgeronde span

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.