Gaan dié beamptes skotvry daarvan afkom?

Spaanse spelers konfronteer die skeidsregter ná hul nederlaag teen België. (Foto: YouTube)

Daar kan nie fout gevind word met die jare lange skorsings van Spaanse spelers wat ʼn Roemeense skeidsregter ná ʼn toets teen België in Brussel verbaal en fisiek toegetakel het nie, maar gaan die beamptes skotvry daarvan afkom?

Die broers Sebastien en Guillaume Rouet is onderskeidelik vir 43 en 36 weke geskors, en Pierre Barthere, Lucas Guillaume en Mathieu Belie – wat nie handgemeen geraak het nie – elk vir 14 weke.

Die voorval het gevolg nadat Spanje se nederlaag teen België daartoe gelei het dat Roemenië in sy (Spanje se) plek tot die Wêreldbekertoernooi in Japan toegelaat is.

Spanje het die skuld vierkantig voor die deur van die Roemeense skeidsregter gelê, en geëis dat die wedstryd oorgespeel word.

Wêreldrugby (WR) kon ook nie deur die blaser beïndruk gewees het nie, want hy was bereid om die wedstryd te laat oorspeel.

Toe het beskuldigings van die gebruik van onwettige spelers deur Spanje die kaarte verder deurmekaar gekrap, en ʼn noodondersoek is van stapel laat loop, wat nog nie afgehandel is nie.

Nog iets: Spanje het vooraf beswaar teen die Roemeense wedstrydbeamptes aangeteken, maar Rugby Europa (RE) het sy beswaar verwerp.

Dit was ʼn flater wat eenvoudig die tafel gedek het vir die onverkwiklikheid ná die wedstryd.

Die spelers is nou in die openbaar gekruisig, maar wat van die beamptes – nie net die blaser nie, maar ook die kortsigtige RE-beampte(s) wat Spanje se waarskuwing in die wind geslaan het?

Gaan hulle dit vryspring, of dalk hoogstens heimlik op die vingers getik word?

Is dit regverdig?

Internasionale Rugbyspelers (IRP) het WR vroeër vandeesweek gewaarsku dat hy strenger moet toesien dat die spel se integriteit beskerm word.

Hier is sy eerste toets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.