Gaan die Bulle vanaand net té sterk op Loftus wees?

Die Blou Bulle het ’n sterk span vir vanaand se Curriebeker-eindstryd gekies. Foto: GB Jordaan.

Selfs al het jy nie veel ooghare vir die Blou Bulle nie, moet jy beïndruk wees as jy vinnig deur hul spanlys vir vanaand se Curriebeker-halfeindstryd teen die Westelike Provinsie lees.

Name soos Cornal Hendricks, Lionel Mapoe, Johan Goosen, Arno Botha en Marcell Coetzee staan onmiddellik uit, maar goeiste, eintlik het elke speler in die beginvyftiental al met ’n bulvertoning vorendag gekom; om dan nie eens van Jan-Hendrik Wessels, Simphiwe Matanzima en Jacques du Plessis op die plaasvervangersbank te praat nie.

Daarbenewens speel hulle op Loftus Versfeld; die rugbyfort van Pretoria waar Jake White en kie. nie sommer ’n wedstryd verloor nie.

Die Bulle se voorspelers is groot, goed en gevaarlik, terwyl Johan Goosen sorg dat hul agterlyn maklik met ander spanne kan saamgesels – en dikwels oorheers hulle die gesprek ook.

Daar wag dus ’n opdraande stryd op John Dobson se Kapenaars, maar benewens die buiteperd-etiket om die nek, is die WP oorgehaal om die Bulle op hul tuisveld aan te vat.

“Ons is al daaraan gewoond om in ’n maak-of-breek-wedstryd te speel,” het Dobson gesê.

Die WP het vir Juan de Jongh op senter gekies. (Foto: Facebook)

“Ek dink die spelers voel eerder opgewonde oor die kragmeting as om hulself te veel oor die drukkoker te bekommer. Ons wil met dieselfde intensiteit en ondernemingsgees as verlede week speel; die res sal dan vanself in plek val.”

Evan Roos is steeds nie beskikbaar vir die Streeptruie nie, maar Scarra Ntubeni is op haker gekies.

En al dink die Kapenaars dat hulle nie veel het om te verloor nie, is ’n plek in die Curriebeker-eindstryd op die spel. Ná 80 minute se spel sal ’n mens met sekerheid kan sê of WP ook vir “Weer Probeer” of dalk vir “Wen (in) Pretoria” staan.

  • Die wedstryd begin om 19:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Blou Bulle: David Kriel (heelagter), Cornal Hendricks (regtervleuel), Lionel Mapoe (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Madosh Tambwe (linkervleuel), Johan Goosen (losskakel), Zak Burger (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Arno Botha (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Ruan Nortjé (slot), Janko Swanepoel (slot), Mornay Smith (stut), Schalk Erasmus (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Jan-Hendrik Wessels, Simphiwe Matanzima, Jacques van Rooyen, Jacques du Plessis, WJ Steenkamp, Keagan Johannes, Chris Smith en Stravino Jacobs.

Westelike Provinsie: Sergeal Petersen (heelagter), Ruhan Nel (regtervleuel), Juan de Jongh (buitesenter), Dan du Plessis (binnesenter), Edwill van der Merwe (linkervleuel), Tim Swiel (losskakel), Paul de Wet (skrumskakel), Hacjivah Dayimani (agtsteman), Marcel Theunissen (flank), Deon Fourie (flank), Johan du Toit (slot), Ernst van Rhyn (kaptein en slot), Sazi Sandi (stut), Scarra Ntubeni (haker) en Leon Lyons (stut). Plaasvervangers: André-Hugo Venter, Dian Bleuler, Neethling Fouché, Justin Basson, Nama Xaba, Godlen Masimla, Rikus Pretorius, Tristan Leyds/Warrick Gelant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Belle was reeds te sterk. Vir weer probeer vermorsel.

N

Geluk bulle. Maar min bydrae tot die B&I leeus reeks en Championship reeks tot dusver. Nyakane en Morne steyn. Wat minimaal bydrae gehad het. WP se verswakte currie cup span agv hul groot bydrae tot bokke se span. Moet wel sê die Bulle doen goed met n gekoopte span en afrigter.