Gaan die Pumas en Griekwas ook oorsee speel?

Daar sal nog baie spitwerk gedoen moet voordat die Pumas en Griekwas aanstaande seisoen in die Anglo-Walliese Bekerreeks in Brittanje kan speel, of is die besluit al reeds geneem?

Nadat die Cheetahs en Southern Kings ʼn paar weke gelede die jawoord gekry het om in dié seisoen se Pro14-reeks te speel, word daar allerweë verwag dat die Anglo-Walliese reeks ook uitgebrei sal word.

Daar is sterk sprake dat afgesien van twee Suid-Afrikaanse spanne ʼn Amerikaanse span ook ingesluit sal word, maar nadat daar Sondag slegs ʼn teleurstellende 6 271 toeskouers (ondanks aggressiewe bemarking) in Philadelphia was toe Saracens teen die Newcastle Falcons in die Engelse Premierliga gespeel het, kan daar twee keer daaroor gedink word.

Dalk sal die organiseerders ook na die Nelson Mandelabaai-stadion moet kyk toe daar slegs ʼn paar honderd toeskouers was toe die Kings Saterdag teen Leinster gespeel het. Hoeveel toeskouers het die afgelope paar jaar ook na Kimberley gestroom?

Die aankondiging oor die Pumas en Griekwas se moontlike deelname word glo binnekort deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gedoen.

Daar is baie op die spel, want die spanne wat aan die reeks deelneem, is dié seisoen van 250 000 pond gewaarborg (R4,46 miljoen) terwyl daar ook 200 000 pond (sowat R3,57 m) se prysgeld op die spel is om saam met Engeland se top-Premierligaspanne en vier Walliese spanne deel te neem.

Die tydgleuf waarin die reeks plaasvind, val buite die Suid-Afrikaanse seisoen, hoewel Saru daarmee vrede gemaak het.

Die reeks word ook gebruik om jong talent na vore te bring, om van die spelers ʼn ruskans te gee, en word in dieselfde naweke beslis as waarin daar toetsrugby gespeel word.

Vanjaar se bepalings begin op 3, 4 en 5 November, gevolg op 10, 11 en 12 November en 18 November, wanneer daar toetsrugby gespeel word.

Die reeks word eers aanstaande jaar op 27 Januarie en 3 Februarie (die eerste naweek van die Sesnasies) hervat, voordat die halfeind- en eindstryd beslis word.

Dit word tans in vier groepe van vier Engelse spanne en een Walliese span verdeel wat almal net een keer teen mekaar speel, gevolg deur die uitspeelwedstryde.

Maar wat van die tien weke tussenin?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

rollie ·

Die SA publiek gaan kyk dan nie eers meer superrugby nie. 6000 is baie meer toeskouers as wat die Pumas en Griekwas sal oplewer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.