Gaan Ierland die Wêreldbeker wen?

Moenie verbaas wees as Ierland aanstaande jaar in Japan die Wêreldbeker (WB) voor die All Blacks se neuse wegraap nie.

Ierse rugby geniet ʼn sterk opwaartse swaai en die Iere sal gewis daaraan werk om dit vol te hou, minstens tot ná die WB-toernooi.

Ierland het vanjaar die Sesnasiesreeks met ʼn Grand Slam gewen, en is tweede ná Nieu-Seeland op die wêreldranglys.

Die Ierse provinsie Leinster is die Europese klubkampioen ná ʼn sege van 15-12 oor die Franse klub Racing 92. Nog ʼn Ierse provinsie, Munster, het die halfeindstryd gehaal.

Leinster het eweneens die Pro14-reeks (spanne uit Ierland, Skotland, Wallis, Italië en Suid-Afrika) gewen nadat hy einste Munster in die halfeindronde uitgeskakel het.

Op die koop toe het Leinster A, dié provinsie se naasbestes, die eindstryd van die Britse en Ierse Beker gehaal, en die provinsie Connacht het in die kwarteindronde van die Europese Uitdaagreeks gespeel.

Dit wil dus lyk of Ierse rugby heelwat diepte het.

Die All Blacks móét die een of ander tyd onttroon word en, onthou, die Iere het hulle 19 maande gelede in Chicago, Amerika, met 40-29 ʼn goeie pak slae gegee.

Die Kiwi’s en die Iere meet in November in Dublin kragte. Afhangende van die mate waarin die twee spanne op volle sterkte is, kan dit een van vanjaar se taaiste toetse oplewer.

Verskeie beroepswedders gee die Iere in hierdie vroeë stadium ʼn gelyke kans om die toernooi te wen. (Val dit vreemd op dat die Springbokke nie tussen die vyf gunstelinge tel nie?)

Les bes, ʼn Ier wat kwaad is, is ʼn moeilike kalant, en die Iere is omgekrap omdat die Franse, en nie húlle nie, die Wêreldbekertoernooi in 2023 sal aanbied.

Die Franse het dit skaars drie toernooie gelede ook aangebied, en Ierland het nog nie ʼn kans op sy eie gehad nie.

Watter beter manier is daar om hul punt te stel, as om die toernooi te wen? Dis iets wat die Franse ook nog nie kon regkry nie.

Kortom: Ierland se kans was nog nooit beter om die Webb Ellis-beker omhoog te hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peter ·

Saffas sal maar net te bly wees om na die kwartfinaal deur te gaan.

Veritas ·

Moet nie noual die All Blacks afskryf nie. Hulle weet wat dit vat om te wen en die loesing teen Ierland, is net die motivering wat hulle nodig het.

bolla ·

Hulle sal moet wys dat hulle soos die AB’s gereeld oorsee kan wen. Hulle kon nie eers die vrotse Bok-span in menseheugenis in ‘n toetsreeks in SA klop nie. Behoort maar weer die AB’s te wees. Australie waarskynlik die grootste bedreiging.

Snuffels ·

Die Iere is dieselfde as die Proteas…sal choke by die kwartfinaal.

Callie ·

Enige span het n kans, behalwe die kwota deurdrenkte SA. Wil hulle nie meer bokke noem nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.