Gaan Jones se kop rol?

Eddie Jones. Foto: (AP Photo/Scott Heppell)

Die Engelse rugbyafrigter Eddie Jones sal sekerlik die papelellekoors kry as hy Afrikaans kan lees en verstaan.

Dit volg nadat Sondag in Rapport berig is dat die Engelse rugbybase voelers na die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, uitgesteek het om by Jones oor te neem.

Erasmus was hoeka op Murrayfield, nie net om die Skotte, wat in Julie teen die Bokke speel, van nader te ontleed nie, maar glo ook om ʼn draai op Twickenham te maak… en só die saadjie in Jones se kop te plant.

Dit klink dalk vergesog, maar wat gebeur as die Engelse weer verloor en Jones se kop rol. Wie neem dan oor?

Die uitvoerende hoof van Engeland se Rugby Football Union (RFU), Bill Sweeney, het egter gesê dat daar geen samesprekings met Erasmus gehou is nie.

Jones is sedert verlede jaar se Wêreldbeker-eindstryd teen die Bokke in Jokohama, Japan, onder groot druk, want die Engelse is omgedop, hul leemtes is oopgevlek, hul arrogansie is daarmee heen.

Verlede Sondag teen Frankryk in die Sesnasies-reeks is Jones se sooibrand vererger toe die Hane die Engelse verfomfaai het.

Saterdag op Murrayfield kon Jones ook nie tevrede gewees het met sy Rose se vertoning toe hulle Skotland net met 13 – 3 geklop het nie. Maar in plaas daarvan om brûe te probeer bou, het hy onder die “ongemanierde” Skotse toeskouers ingeklim en gebrom dat hulle g’n maniere het nie.

Wat het dié man verwag nadat hy jare lank houe uitdeel en niks wil ontvang nie. Ken hy dan nie die geskiedenis van Engeland en Skotland nie?

* Die Franse het juis Sondagmiddag in Parys hulle by Ierland as die enigste twee onoorwonne spanne in die vanjaar se Sesnasies-reeks aangesluit toe hulle Italië onoortuigend met 35 – 22 geklop het.

Die Italianers, wat verlede week deur Wallis verflenter is, het baie beter vertoon en dit moes die afrigter, Franco Smith, breed laat glimlag het.

Só kan hy die span laat voortbou en ontwikkel. Só kan die Italianers hul man staan.

* Ierland het Wallis Saterdag in Dublin met 24 – 12 geklop om sy aanslag te verstewig.

Dit was die Ierland van ouds, vol passie en ondernemingsgees. Hou hulle aan om só te vertoon, kan hulle weer die Sesnasies-kroon by Wallis oorneem … en wie weet, dalk nog ook ʼn Grand Slam (oorwinnings oor die drie ander tuisunies) byvoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stefan ·

As ek Rassie was en die Engelse maak ‘n aanbod sal ek vinnig waai.
Dink net hoe lekker moet dit wees om span te kies uit die beste beskikbaar , sonder n gekuipery om die kwatas spelers te kies….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.