Gaan Rassie Erasmus die Lions beloon?

Wen of verloor in Saterdag (09:35) se Superrugby-eindstryd tussen die Lions en Crusaders is die vraag hoeveel Lions die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, by sy Springbokoefengroep vir die komende Rugbykampioenskap gaan betrek.

En wen of verloor, hoeveel Crusaders gaan die All Blacks-afrigter, Steve Hansen, kies wanneer hy Maandag sy span aankondig?

Dis maklik, want Hansen sal nege, tien of selfs meer Crusaders vanweë hul vaardighede, bestendigheid en spelpeil in sy All Blacks-groep van 33 hê.

Erasmus se taak is nie so maklik nie. Daar sal ʼn hele paar veranderings gemaak moet word aan die Springbokspan wat in die derde verloortoets teen Engeland gespeel het.

Boonop was Erasmus maar bra snoep met die Lions toe hy sy groep vir die toetse teen Wallis en Engeland gekies het.

Warrick Gelant en S’bu Nkosi is beseer, Duane Vermeulen speel in Japan en is nie beskikbaar nie en Chiliboy Ralepelle het oplaas in onguns verval.

Dan is Eben Etzebeth na alle waarskynlikheid weer slaggereed ná sy reeks beserings, maar hy sal straks nie dadelik ingespan word nie.

Wat heeltemal seker is, is dat Malcolm Marx en Warren Whiteley, wat vanweë hul beserings nie in die reeks teen Engeland gespeel het nie, terug in die Bokgroep sal wees.

Só ook behoort Kwagga Smith en Cyle Brink daar te wees, saam met Aphiwe Dyantyi, Franco Mostert en (dalk) Elton Jantjies. As dit van my afhang, behoort Ruan Combrinck ook die jawoord te kry.

Die Supereindstryd behoort nie ʼn te groot rol te speel nie, veral omdat die Lions met die rug teen die muur is.

Hulle sal vlugflouheid moet afskud, want hulle het eers laat Dinsdagaand in Christchurch aangekom nadat hulle reeds Maandag uit Johannesburg vertrek het.

Hulle speel boonop teen ʼn uitsonderlike span wat op die kruin van die golf is en wat min opvallende gebreke het. Dit gaan boonop yskoud en dalk ook nat wees.

Baie min kenners gee die Lions ʼn realistiese kans, veral as vertonings in vanjaar se reeks ʼn maatstaf is.

Wat wel belangrik is, is hoe hulle die druk sal verwerk, hoe hulle sal aanpas en of hulle goed sal byhou wanneer die Crusaders op loop gaan. En natuurlik hoe hulle speel.

Die Lions het reeds baie bereik om in die eindstryd te speel en dis hoekom Erasmus ʼn hele paar Lions vir hul spelpeil moet beloon. 

Die spanne ‒

Crusaders
15. David Havili, 14 Seta Tamanivalu, 13 Jack Goodhue, 12 Ryan Crotty, 11 George Bridge, 10 Richie Mo’unga, 9 Bryn Hall, 8 Kieran Read, 7 Matt Todd, 6 Heiden Bedwell-Curtis, 5 Sam Whitelock (kapteins), 4 Scott Barrett, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Joe Moody. Bank: 16 Sam Anderson-Heather, 17 Tim Perry, 18 Michael Alaalatoa, 19 Luke Romano, 20 Pete Samu, 21 Mitchell Drummond, 22 Mitchell Hunt, 23 Braydon Ennor.

Lions
15 Andries Coetzee, 14 Ruan Combrink, 13 Lionel Mapoe, 12 Harold Vorster, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Ross Cronjé, 8 Warren Whiteley, 7 Cyle Brink, 6 Kwagga Smith, 5 Franco Mostert, 4 Marvin Orie, 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Jacques Van Rooyen. Bank: 16 Corné Fourie, 17 Dylan Smith, 18 Johannes Jonker, 19 Lourens Erasmus. 20 Marnus Schoeman, 21 Dillon Smit, 22 Aphiwe Dyantyi, 23 Howard Mnisi.

Skeidsregter: Angus Gardiner (Australië).
Assistentskeidsregters: Glen Jackson, Nic Berry (albei Nieu-Seeland).
TV-skeidsregter: Shane McDermott (NS).
Verwagte weer: Koud en moontlikheid van reën.
Afskop: 09:35.
Voorspelling: Crusaders met 12 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LHS ·

Andries Coetzee speel Leeu rugby, hardlooprugby. Verseker hoort hy nog in die groep te wees. Ruan Dreyer en en Jacques van Rooyen tesame met Marx is hoe lank nou al die beste voorry in die super reeks, miskien moet Erasmus en kie ervare en kundige oud voorrye gaan vra wie hoort in die bokspan. Ruan Combrinck kan nie weggelaat word nie, mees bestendigste gemiddeld in alle aspekte van die spel, van alle S.A. vleuels. As Erasmus steeds n verloor skrum gaan kies, wat nie behoorlik hulle man kan staan in die vaste spel nie, kan letterlik enige skakelpaar gekies word, want hulle kan nie presteer van die agtervoet af nie, maar met die regte pak voor en Faf op skrumskakel, is daar net een losskakel wat n wedstydwenner is, Elton Jantjies. Pollard doen alles baie tegnies korrek maar daar stop dit ook. Ek glo steeds Pollard mag dalk n beter keuse op nr 12 wees. Twee losskakels, een linkervoet, die ander regs. Gebruik daardie voordeel. Ook Combrinck se vermoe om n 60m strafskop mee te kan slaag moet punte vir hom tel.

Flojo ·

Duidelik is jy ‘n liefhebber en nie ‘n kenner nie. Jantjies ‘n wedstryd wenner?

Henk ·

As jy spelers soos de elendeling en malherbe kan kies dink ek nie jy het die insig om die kwaliteit in Lions spelers te sien nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.